Dr. Dion Theys, omstrede Noord-Kaapse departementshoof van gesondheid, is weer in die beskuldigdebank in ’n tweede strafregtelike saak teen hom.

Foto: Charné Kemp

Staatsgetuies en amptenare het glo al doodsdreigemente ontvang en is geïntimideer in die jongste bedrog- en korrupsiesaak saak teen dr. Dion Theys, omstrede Noord-Kaapse departementshoof van gesondheid.

Dit kom nadat Theys en twee ander wat die naweek agter tralies moes deurbring, Maandag (28/08) elkeen op R5 000 borgtog vrygelaat is.

Op die beskuldigdebank is van links dr. Dion Theys, Noord-Kaapse departementshoof van gesondheid, Daniel Gaborone (54), finansiële hoof, en Victor Nyokong (41), adjunkdirekteur van finansies by die departement.

Theys, wat reeds ’n misdaadrekord vir oortredings van die Wet op Openbare Finansies het, word saam met tien ander beskuldigdes en maatskappye van bedrog, korrupsie en geldwassery van R16 miljoen en oortredings van die Wet op Openbare Finansies (PFMA) aangekla.

Amptenare, sakemanne en maatskappye het glo tydens die Covid 19-inperking geheul om persoonlike beskermingstoerusting (PPE) na bewering aan te koop sonder om verkrygingsprosedures te volg. Boonop is die produkte na bewering nie gelewer nie.

Die staat het Theys; Daniel Gaborone (54), finansiële hoof; en Victor Nyokong (41), adjunkdirekteur van finansies by die departement, se borgtogaansoeke teengestaan omdat hulle vanweë hul magsposisies invloed kan uitoefen op staatsgetuies en in aanraking met bewysstukke kan kom.

Die staat het aangevoer sekere getuies is reeds met die dood gedreig en geïntimideer.

Die ander beskuldigdes is Montgomery Lifa Faas (39), adjunkdirekteur by die finansiële afdeling; Siyabolela Booi (38), adjunkdirekteur by die verkrygingsafdeling; Goitemodimo Piet Moseki (50), adjunkdirekteur by die oordraagbare siektes-afdeling; Elizabeth Dibueng Manyetsa (63) adjunkdirekteur by die Verplegingsdirektoraat vir oordraagbare siektes; Kanyaditswe MacDonald Visser (44), direkteur van MKV Investment; en Kelebogile Bogatso (58), direkteur van Stilofern (Pty) Ltd. MKV Investment en Stilofern is ook beskuldigdes.

Die aangeklaagdes is op Woensdag 23 Augustus op borgtog van verskillende bedrae tussen R5 000 en R50 000 vrygelaat. Hulle moet hul paspoorte inhandig en weer op 16 Oktober in die hof verskyn wanneer verdere besonderhede en die dossier oorhandig word.

Dr. Dion Theys, omstrede Noord-Kaapse departementshoof van gesondheid, is weer in die beskuldigdebank in ’n tweede strafregtelike saak teen hom.

Adv. Jerry Modiba het namens Theys en Gaborone aangevoer dat hulle in 2021 op dieselfde aanklagtes aangekla is. Die staat het nie destyds borgtog teengestaan nie.

Nadat Theys en Gaborone se vertoë “suksesvol deur die Nasionale Direkteur van Vervolging (NDOV) oorweeg” is, is die aanklagte teruggetrek. Hulle wonder watter nuwe bewyse die staat in die jongste saak teen hulle bekom het.

‘Gegrief’ oor inhegtenisname
Hulle is gegrief dat hulle in hegtenis geneem is en voer aan die staat moes hulle eerder gewaarsku het om in die hof te verskyn. Nietemin het sy kliënte altyd hul volle samewerking gegee en is nie vlugrisiko’s nie. Hulle sal nie met die ondersoek inmeng nie.

Die staat het geen polisiesaaknommers verskaf oor beweerde dreigemente of intimidasie nie.

Theys se vorige veroordeling is weens oortredings wat in ’n ander ampstermyn as die huidige een gepleeg is. Die aanklagtes van bedrog en korrupsie teen Gaborone in ’n onverwante saak is teruggetrek.

Kenneth Juries het namens Nyokong aangevoer dat Faas, sy bestuurder, op borgtog vrygelaat is. Nyokong as ’n ondergeskikte kan nie getuies beïnvloed nie. Dit blyk sy borgtogaansoek word net teengestaan omdat hy ’n hangende saak van korrupsie teen hom het. Dit is deur die staat se toedoen dat die betrokke verhoor sedert 2018 sloer. Hy sou ’n getuie wees in die vorige saak teen Theys en Gaborone wat teruggetrek is, en moes tot “sy skok uitvind” dat hy nou ’n beskuldigde is.

Adv. Willie Els, aanklaer, het die borgtogaansoek teengestaan weens dreigemente teenoor staatgetuies. Volgens hom is Theys-hulle se argument vals dat getuieverklarings reeds geliasseer en die saak nie belemmer word nie. Getuies kan steeds intimideer word om nie in die verhoor te getuig nie. Weens intimidasie het die ondersoekers gesukkel om verklarings van getuies af te neem.

Hy stem geensins saam dat die vorige saak weens “suksesvolle betoë aan die NDOV” teruggetrek is nie. Inteendeel, die ondersoekers het besef die saak is veel meer kompleks en dat meerdere mense by die bedrogspul betrokke kan wees. Die saak is teruggetrek vir verdere ondersoek.

Theys en Gaborone het geweet die aanklagte kan weer ingestel word, en het na bewering tyd gehad om getuies vanweë hul magsposisie te intimideer.

Die voorval waarin Babita Deokaran, ’n fluitjieblaser by die Gautengse departement van gesondheid wat twee jaar gelede vermoor is, behoort as waarskuwing te dien.

Wat die aanklagtes betref, het die beskuldigdes glo voordat die tesourieregulasies weens die Covid-19-ramptoestand publiseer is, reeds afwykings van die verkrygingprosedures goedgekeur. Die kontrak vir die PPE is aan MKV Investments toegeken, met geen bewyse dat die produkte gelewer is nie.

Die staat het intussen tegniese, digitale data en selfoongetuienis bekom, wat kommunikasie in die betrokke tydperk tussen die verdagtes bevestig en bewerings van knoeiery staaf. Die staat wag vir die laaste bankstate om geldelike oordragte te bewys, het Els aangevoer.

Beslag gelê op luukse voertuig, eiendomme
Die Valke het reeds beslag op ’n luukse Bentley Continental GT voertuig en eiendom met ’n gesamentlike waarde van R5,3 miljoen gelê.

Die saak is tot 16 Oktober uitgestel.

Intussen sê die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement hy sal eersdaags besluit oor “interne prosesse” rakende die amptenare wat aangekla is.

Theys (56) is vroeër vandeesmaand in ’n afsonderlike saak skuldig bevind op aanklagte van oortredings van die PFMA en met R50 000 beboet. Hy het onbehoorlike kontrakte aan ’n onderneming vir studentebehuising vir verpleërs toegeken.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article