Die oorhoofse prentjie van misdaad in Suid-Afrika skets ’n onrusbarende beeld van ’n gewelddadige gemeenskap waar moord en ernstige aanranding aan die orde van die dag is.
In ’n artikel getiteld “South Africa Is on the Road to Becoming a Failed State” in The Washington Post van 29 Maart vanjaar, word geskryf dat lande oor die wêreld heen hul eie probleme het, maar dat dit in Suid-Afrika van “sleg na grusaam” gaan.
Só reageer dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, oor die nuutste misdaadstatistiek wat Vrydag 18 Augustus deur die minister van polisie, Bheki Cele, in Vrouemaand bekend gemaak is.
Dié statistiek vir April tot Junie 2023 in vergeleke met statistiek van dieselfde kwartaal verlede jaar, wys ’n toename in moord en geweld waar vroue en kinders die slagoffers is.
Ofentse Mokae, DA-LP en Noord-Kaapse woordvoerder van vervoer, veiligheid en skakeling, sê die party is geskok deur die feit dat vroue en kinders steeds onveilig in hul gemeenskappe is. Te min polisiebeamptes en onderbefondsing dra hiertoe by, sê hy.
Groenewald dui daarop dat moord op vroue met 4,7% toegeneem het, poging tot moord met 20,2% en ernstige aanranding met 9,7%.
“ ’n Vergelyking teenoor net drie jaar gelede wys bykans ’n verdubbeling in al die kategorieë,” sê hy. “In 2021 (April tot Junie) is 559 vroue vermoor teenoor vanjaar se 895, poging tot moord was 879 teenoor vanjaar se 1 417 en ernstige aanranding was 7 585 teenoor vanjaar se 12 872.
“Die situasie is erger wat kinders aanbetref. Net teenoor verlede jaar het moord op kinders met 20,6% toegeneem en poging tot moord met 15,3%.”
Andrew Whitfield, DA-LP en skaduminister van polisie, sê die party is verontrus oor die misdade wat in ruimtes gepleeg word waar kinders en jong mense veilig moet wees. Dit sluit ses verkragtings by dagsorgsentrums in, 55 verkragtings en sewe moorde by skole, vyf verkragtings by skole vir leerlinge met spesiale behoeftes, asook twee moorde en drie verkragtings by tersiêre instellings.
Volgens die landbou-organisasie TLU SA is misdaad in Suid-Afrika buite beheer met drie mense wat elke uur vermoor word, vier wat verkrag word, 16 wat ernstig aangerand word, en 409 huisinbrake wat daagliks plaasvind.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê die polisie se statistiek betreffende plaasmoorde (14) en veediefstal (6 281) verskil met dié van die unie s’n. Die unie verwelkom boonop nie ’n klein afname in sommige misdade nie omdat elke misdaad wat gepleeg word, een te veel is, sê Van Zyl.
Tydens die bekendstelling van die statistiek het Cele gesê die daling van misdade in sommige kategorieë is weens die toename van hoër polisiesigbaarheid en die uitvoering van ontwrigtende operasies in gebiede met hoë misdaadvoorkoms. Die opsporing van gesoekte verdagtes het positiewe gevolge, asook die aggressiewe benadering van Operasie Shanela wat voortdurend plaasvind.
Cele sê “dit is nie normaal dat 31 polisie-offisiere in drie maande vermoor is nie,” en dat bestuurstrukture na die fisieke en geestelike welstand van sy lede moet omsien. Hy het alle gemeenskapstrukture, soos die Gemeenskapspolisiëringsforums, vir hul bydra in die geveg teen misdaad bedank.
Statistiek in die Noord-Kaap
In die Noord-Kaap het moord in die eerste kwartaal, April tot Junie, met 11% toegeneem (van 81 moorde tot 90 moorde). Hier was argumente, misverstande, padwoede en uitlokking steeds die grootste oorsake, gevolg deur vergelding en roof. Die moorde is die meeste in openbare ruimtes en die huis van die slagoffer of oortreder gepleeg. Soos verlede kwartaal, was messe die wapen wat die meeste gebruik is, gevolg deur ’n vuurwapen en ’n skerp voorwerp. ’n Moord op ’n polisiebeampte het ook in die provinsie plaasgevind.
Poging tot moord het met 102,9% toegeneem (van 210 tot 426). In dié kategorie is die Galeshewe- en Rosedale-polisiekantoor in onderskeidelik Kimberley en Upington twee van die 30 polisiekantore waar dié misdaad die meeste aangemeld is.
Verkragtingsake het met 4,7% gedaal (van 233 tot 222), seksuele aanranding het met 3,8% gestyg, en aanranding met 12,2%.
Die trio-misdade (voertuigkaping, roof by residensiële persele, en roof by nie-residensiële persele) het in totaal met 0,8% gedaal (van 118 na 117). Voertuigkapings het met 28,6% gedaal (van 14 tot 10), roof by residensiële persele het met 87,5% gestyg (van 24 tot 45), en roof by nie-residensiële persele het met 22,5% gedaal.
Geen vragmotorkapings of transitorooftogte het plaasgevind nie, met ontvoerings wat met 105,6% toegeneem het (van 18 tot 37).
Kontakverwante misdaad (brandstigting en opsetlike beskadiging van eiendom) het met 2,6% toegeneem.
Eiendomsverwante misdaad (roof by persele, diefstal van en uit voertuie, en veediefstal) het gesamentlik met 6,8% gedaal. Veediefstal het egter met 8,7% toegeneem. Oor die land heen is skape die meeste gesteel, gevolg deur bokke, beeste, hoenders, varke, wild, perde, donkies en 15 volstruise. Winkeldiefstal het met 19,8% gestyg.
Misdaad bespeur te danke aan polisie-optrede is met 35,5% verbeter.




