Moeë Mamma waag een aand die vertaling van “kokketiel” as “coco-tile” op Oudste se vraag wat die woord in Engels is.
Pappa gee ’n voelbare frons en vra of sy dalk “cockatoo” bedoel.
Soms vul die uit-die-heup-uit-vertalings die huis met lag, ander dae met paniek. Soos toe Sussie hoor sy het ’n “tailbone” eerder as ’n “coccyx”, wat minder angs sou veroorsaak. Sussie het eers aangedring dat sy nie ’n stert het nie, en daarna desperaat vir die verwydering daarvan gevra.
Boetman was taamlik verlig toe hy van ’n pampoentjie-uitbreking in die dorp hoor.
“Good thing I don’t eat pumpkin,” sê hy voordat hy om gebed vir die siek kinders vra.
Die Rooyspan se skeppende vertalings en neologismes veroorsaak groot genot, en soms verleentheid. Sussie noem Pappa se baard-skuur-soene “spiky kisses”, Boeta noem die suiker in Ouma se suikerpot wat olifante as dekoratiewe versiering het, “olifantsuiker”, en verwys na sy ma se beenhare wat in die winter veel minder as in die somer geskeer word, as “fir”.
Soms verander die boodskap in die oordrag. Terwyl hy een aand sy planne vir die volgende dag in Brits uiteensit en Mamma dit in Afrikaans aan Ouma Bloem herhaal, stop hy haar: “No, not that. I’ve changed my mind.”
Oudste is lankal nie meer op sy mond geval nie. Nadat hy sy suster se storie-kykbeurt aangekondig het, verduidelik Rooymamma een storie van hom is dieselfde hoeveelheid minute as twee van Jongste se twee stories.
“Ag Ma, don’t overthink it,” snoer hy die mond.

