Henriëtte du Plessis is as die burgemeester van die Gamagara-munisipaliteit heraangestel totdat die DA se hofstryd teen haar onwettige verwydering weer op 13 September hervat word.
Die DA het dié beslissing van die Hooggeregshof in Kimberley op Vrydag 1 September bekend gemaak.
Dié beslissing is die vorige dag in die Hooggeregshof gemaak, asook dat die stadsbestuurder van Gamagara en die 12 ander respondente in die saak verbied word om enige besluite te neem of enige aksies te onderneem ingevolge die besluite van die Raad op 7 Augustus.
In ’n verklaring sê Harold McGluwa, LPW en die DA se provinsiale leier in die Noord-Kaap, dat die uitspraak die verwydering van Du Plessis deur ‘n mosie van wantroue deur die ANC- en EFF-koalisie én die daaropvolgende verkiesing van ‘n ANC-burgemeester ongeldig maak.
Die uitspraak maak ook die verwydering van Gamagara se Gemeenskapsforum speaker, Shepherd Mines, en die daaropvolgende verkiesing van ‘n EFF-speaker ongeldig.
McGluwa sê die hofbevel is ‘n oorwinning vir demokrasie, vir die wetlike prosesse en vir die mense van Gamagara.
Du Plessis het gedurende haar twee maande in die pos ‘n groot impak in die Gamagara-gemeenskap gemaak en het duidelik gewys watter verskil ‘n DA-administrasie kan maak, sê McGluwa.
Dit sluit onder meer in dat ‘n begrotingstekort van R47 miljoen binne tien dae nadat sy ingesweer is, in ‘n oorskot van R19 miljoen omgeskakel is.
Binne die eerste week in haar amp het Du Plessis ook van ‘n luukse burgemeestersvoertuig ontslae geraak en twee bakkies vir gebruik deur die elektrisiteits- en paaie-departement gehuur.
Du Plessis was van plan om Donderdag reeds weer aan die werk te spring, en om op te tree teen die skade wat die ANC en EFF die afgelope drie weke aangerig het.
Dit sluit onder meer in om die stadsbestuurder aanspreeklik te hou vir verkwistende en vrugtelose uitgawes nadat geld bestee is om die slotte op haar kantoordeur te verander om haar te verhoed om haar kantoor te betree en haar pligte uit te voer.
Voorts behels dit ook die kansellasie van ‘n nuwe huurkontrak vir ‘n Audi, wat deur die burgemeester aangegaan is, en die huur van ‘n bakkie vir die EFF-speaker.
”Terwyl ons later vandeesmaand weer in die hof sal wees om die mosie verder uit te daag, doen ons ‘n beroep op die Gamagara-munisipaliteit om politiek opsy te skuif en om toe te laat dat die prioritisering van dienste in Gamagara seëvier,” sê McGluwa.
– Verwerk, Helena Barnard



