Dr. Dion Theys, omstrede Noord-Kaapse departementshoof van gesondheid, is weer in die beskuldigdebank in ‘n tweede strafregtelike saak teen hom.

Foto: Charné Kemp

Noord-Kaapse opposisiepartye beskuldig dr. Zamani Saul, premier, dat hy korrupsie en wanadministrasie toesmeer omdat hy nie teen kaders optree nie wat steeds hoë regeringsposte beklee terwyl hulle misdaadrekords het of tereg staan op aanklagtes wat korrupsie, bedrog en geldwassery insluit.

Dit volg nadat dr. Dion Theys, departementshoof van gesondheid, wat onlangs ’n misdaadrekord verkry het weens oortredings van die Wet op Openbare Finansies (PFMA), weer saam met tien ander beskuldigdes en maatskappye van bedrog, korrupsie en geldwassery van R16 miljoen en oortredings van die PFMA aangekla is.

Dr. Dion Theys, omstrede Noord-Kaapse departementshoof van gesondheid, is weer in die beskuldigdebank in ‘n tweede strafregtelike saak teen hom.

Amptenare, sakemanne en maatskappye het glo tydens die Covid 19-inperking geheul om persoonlike beskermingstoerusting (PPE) na bewering aan te koop sonder om verkrygingsprosedures te volg. Boonop is die produkte na bewering nie gelewer nie.

Theys word saam met Daniel Gaborone (54), departementele finansiële hoof; Victor Nyokong (41), adjunkdirekteur van finansies by die departement; Montgomery Lifa Faas (39), adjunkdirekteur by die finansiële afdeling; Siyabolela Booi (38), adjunkdirekteur by die verkrygingsafdeling; Goitemodimo Piet Moseki (50), adjunkdirekteur by die oordraagbare siektes-afdeling; Elizabeth Dibueng Manyetsa (63) adjunkdirekteur by die Verplegingsdirektoraat vir oordraagbare siekte; Kanyaditswe MacDonald Visser (44), direkteur van MKV Investment; en Kelebogile Bogatso (58), direkteur van Stilofern (PTY) Ltd aangekla. MKV Investment en Stilofern is ook beskuldigdes.

Terug by die werk
Die amptenare is terug in hul poste nadat hul borgtogaansoeke suksesvol was.

Theys is in Augustus skuldig bevind aan die oortredings van PFMA nadat hy as waarnemende departementshoof in 2011 en 2012 drie huurooreenkomste vir studentebehuising van meer as R13 miljoen met JP Hugo Trading aangegaan het.

Sy vonnis was ’n boete van R150 000 of drie jaar gevangenisstraf, waarvan R100 000 of twee jaar opgeskort is.

Pakes Dikgetsi, Cope nasionale komiteelid, sê Saul smeer korrupsie en wanadministrasie onder kaders, bestuurders en amptenare toe.

“Saul moet leer wat goeie regering en openbare administrasie beginsels behels. Sy gebrek aan optrede ondersteun korrupsie, wanadministrasie en swak regering. Die aanvanklike beloftes in sy provinsiale rede van skoon regering verskil van sy administrasie, wat aan ’n toneel uit die gewilde Muvhango-sepie herinner.

“Dit is skokkend dat die betrokke amptenare steeds in regeringsposte is, maar in hofsale boer. Die premier het geweet die eerste PPE-strafsaak teen Theys en kie wat tydelik teruggetrek is, kan weer ingestel word. Tog stel hy vir Theys op ’n vyf jaar kontrak as die departementshoof aan en skors niemand nie.”
Pakes Dikgetsi

“Die premier het ook die departementshoof van paaie en openbare werke ongeag 217 strafregtelike aanklagte teen hom aangestel en nie intussen geskors nie. ’n Ander hoëvlak amptenaar in die departement van onderwys wat nie sy misdaadrekord openbaar gemaak het nie, is steeds in diens.

“Die direkteur-generaal neem al drie jaar waar. Die departement van landbou, omgewingsake en landelike hervorming het steeds nie ’n permanente departementshoof nie. Sommige departementshoofde word eers ná jare vas aangestel. Dit skep ’n onuithoudbare situasie waarin die betrokkenes vatbaar vir korrupsie is,” sê Dikgetsi.

Dr. Dion Theys in die getuiebank tydens sy eerste strafverskyning.

“Die premier het met sy intree-rede voorgegee hy is Mnr. Skoon. Dit was net ’n kwessie van tyd voordat die premier sy ware kleure sou wys. Hy beskerm twyfelagtige karakters. Hy het destyds as ’n ANC-provinsiale sekretaris opdragte aan wetgewerlede gestuur om ondersoeke na die bou van die psigiatriese hospitaal van meer as R2 miljard gekos het, te stuit. Toe hy premier word, noem hy dit die monument van korrupsie, wat oneerlik en verraderlik is.”

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en Noord-Kaapse leier, bevraagteken ook Theys se vaste aanstelling as departementshoof weens die twee afsonderlike strafsake teen hom.

“Dat Theys vroeër vanjaar ten tyde van die eerste strafverhoor teen hom as waarnemende departementshoof opgetree het, is ’n skande. Theys is vroeg in 2022 as waarnemende departementshoof geskors toe albei sake teen hom nog hangende was. Hy het in Februarie vanjaar as ’n direkteur teruggekeer werk toe nadat die PPE-saak tydelik teruggetrek is.”
Dr. Wynand Boshoff

Theys het beweer dat sy naam in ere herstel is, maar die Nasionale Vervolgingsgesag het verklaar die saak word steeds ondersoek. In Julie is Theys as departementshoof aangestel.

Dae nadat hy op die huurooreenkoms-saak gevonnis is, is hy en ander hoëvlak amptenare in die PPE-saak weer aangekla. Sy bevordering dui op diepgewortelde korrupsie en ’n sistemiese afwesigheid van verantwoordbaarheid in die provinsiale regering.

“Kiesers moet besef dié soort korrupsie kan slegs uitgeroei word indien die ANC met die 2024-verkiesing uit die kussings gelig word. Die Noord-Kaap verdien beter as die ANC.”

Op sy beurt sê Harold McGluwa, DA-LW en provinsiale leier, Theys moet summier afgedank word ná sy skuldigbevinding en vonnisoplegging in die huurooreenkomssaak.

“Saul het oor die afgelope jare probeer om die erns van oortredings van finansiële wetgewing te versag. Hy versuim dat Theys aan interne dissiplinêre prosesse onderwerp word. Hy weier om ’n ander senior amptenaar in sy kantoor, wat ook kriminele klagte in die gesig staar weens oortredings van die PFMA, te skors. Die oortredings kom neer op bedrog, korrupsie en die diefstal van openbare geld wat bedoel is vir dienslewering, nie verryking van kaders met konneksies nie.

“Saul toon swak oordeel om Theys, wat onder ’n donker wolk staan, in ’n magsposisie te bevorder. Saul moet gehoor aan die hof gee dat bedrog en korrupsie nie geduld word nie en Theys in die pad steek. Om staatsfondse te misbruik moet gestraf en nie beloon word nie.”
Harlold McGluwa

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article