Die derde Yonder Hartsfees het op Sondag 3 September ten einde gekom nadat duisende besoekers sedert Donderdag deur die hekke gestroom het.
Jannie van Zyl, feesdirekteur, sê dit was ’n geseënde en suksesvolle fees.
Die gesinspakkette was baie gewild. Van Zyl sê dit was wonderlik om te sien hoe gesinne saam die fees besoek, en dit geniet.
Al die kunstenaarsvertonings het groot aftrek gekry, met die sitruimtes stampvol.
In ’n feestelike atmosfeer kon besoekers dié kunstenaarsvertonings bywoon, deelneem aan kinderpret, heerlike eetgoed aanskaf, inkope doen, of net ontspan op die skaduryke terrein.
Die fees word op die perseel van die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheid aangebied, wat ook die tuiste van Yonder is.
By Yonder word volwassenes met gestremdhede vaardighede volgens hul vermoë in werkswinkels aangeleer. Die fees word ten bate van Yonder aangebied, en ’n vierde Yonder Hartsfees word beplan vir 2024.
- Besoek Yonder Hartsfees op Facebook vir meer foto’s.





