Renier van Rooyen tydens 'n vorige verskyning.
Renier van Rooyen tydens ‘n vorige hofverskyning. FOTO: Charné Kemp

Die verhoor waarin Steven Jonkers, deesdae die Noord-Kaapse adjunk-direkteurgeneraal, en drie ander van onder meer oortredings van die Wet op Openbare Finansies en bedrog aangekla is vanweë ’n twyfelagtige sekuriteitskontrak van R384 miljoen, gaan voort.

Dit volg nadat hul aansoek om ontslag Donderdag 7 September in die hooggeregshof in Kimberley grootliks misluk het.

Die saak spruit uit ’n tender wat Jonkers (55), eertydse departementshoof van gesondheid, in 2014 aan die Defensor-sekuriteitsmaatskappy toegeken het. Jonkers en sy medeaangeklaagdes, Defensor Electronic Security Systems asook sy direkteure, Renier van Rooyen (62) en Claudius Gerald Peterson (57), het geen pleitverduideliking of erkennings ingedien nie.

Die aangeklaagdes is van links Renier van Rooyen (62) en Claudius Gerald Peterson (57), wat ook direkteure is van Defensor Electronic Security Systems, en Steven Jonkers (55), eertydse departementshoof van gesondheid en nou adjunk-direkteurgeneraal in die kantoor van die premier.

Die staat voer aan hulle het tussen 13 Maart 2014 en 20 Oktober 2017 geheul en ’n wanvoorstelling in tenderdokumente gemaak om die departement te mislei. Die departementshoof moes inderwaarheid nie die kontrak aan hulle toegeken het nie.

Defensor lewer steeds die betrokke dienste aan die departement, maar sy personeel het die afgelope week weens ’n salarisgeskil gestaak.

Jonkers het ’n oorwinning in die aansoek behaal toe hy aan die bedrog-aanklagte onskuldig bevind en ontslaan is nadat die staat toegegee het hy kan dit nie bewys nie.

Jonkers staar steeds aanklagte van die oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) in die gesig.

Moes vermorste uitgawes voorkom
As rekenpligtige beampte moes Jonkers ’n regverdige, deursigtige, mededingende en koste-effektiewe aankoopproses volg en onreëlmatige en vermorste uitgawes voorkom. Jonkers het glo die oorspronklike bod van R224 miljoen goedgekeur asook ’n verdere bybetaling van R160 miljoen.

Die ander twee word steeds van bedrog en oortredings van die Wet op die Regulering van die Private Sekuriteitsbedryf verdink. Van Rooyen en Peterson het glo nie die vereistes vir tender nagekom toe die bod ingedien is nie. Die maatskappy was nie by die Reguleringsowerheid vir die Privaatveiligheidsbedryf (Psira) geregistreer nie. Hulle het na bewering ook ’n vals tender-belastingklaringsertifikaat ingedien. Peterson het ook voorgegee dat hy nie belange in verwante maatskappye het nie.

In sy betoë het adv. Willem Edeling SC namens die beskuldigdes aangevoer dat die egtheid van boddokumente as bewysstukke steeds betwyfel word. Sekere amptenare wat in die verkrygingsafdeling werk kon nie met sekerheid getuig dat die bewysstukke dieselfde dokumente is wat vir die bod ingedien is nie.

Waarnemende regter Omphemetse Chwaro het nietemin die dokumente as eg aanvaar.

Voorts het Edeling aangevoer Van Rooyen en Peterson as natuurlike persone kan nie vervolg word nie vir die oortredings van hul maatskappy, wat ’n wetlike entiteit is.

Hulle gee toe dat hulle nie ’n ander entiteit se Psira-registrasienommer mag gebruik het om te bie nie, al was daar ’n onderlinge ooreenkoms met beamptes om dit later te bekom. Die staat kan nie bewys hulle wou bedrieg nie.

Jonkers was destyds bekommerd oor die gebrek aan sekere boddokumente en wou dit vind. Hy was onder politieke druk van die LUR, ook weens ’n hofbevel wat hom verplig het om die bod te evalueer. Hy het sy pligte nagekom voordat hy die bod toegeken het. Die staat mag nie vir Jonkers strafregtelik aankla as hy nie eers deur ’n interne dissiplinêre proses skuldig bevind is nie.

Adv. Isaac Mphela, aanklaer, het geensins saamgestem dat die staat ’n swak saak het nie.

Volgens hom word die maatskappy deur sy direkteure bestuur, soos ’n kaptein ’n skip stuur.

“Wie sou ieder geval baat indien die maatskappy die tender kry? Die direkteure het die miljoene gedeel, die R384 miljoen wat betaal is. Jonkers, as die rekenpligte beampte, het die sleutel tot die kluis en staat se geld gehad.”
Adv. Isaac Mphela

Jonkers het nooit ’n verslag aan die tesourie geskryf of enigsins toestemming gevra om die oorspronklike tenderbedrag met nog R159 miljoen soos ‘n “ballon op te blaas nie”. Daar is geen bepalings in die PFMA wat verklaar dat hy as departementshoof eers deur ’n interne dissiplinêre proses moet gaan voordat hy strafregtelik aangekla word nie.

Die betrokke hofbevel het Jonkers beveel om die bod te evalueer, nie aan Defensor toe te ken nie.

Die ander beskuldigdes het willens en wetens ’n ander entiteit se Psira-registrasienommer vir die bod gebruik. Dit was onwettig om maande lank as sekuriteitsmaatskappy te werk sonder die regte Psira-registrasie.

Die verkeerde BTW-nommer is gebruik in boddokumente, wat op bedrog neerkom. Die tender belastingklaringsertifikaat wat ingedien is, was nie eg nie. Die boddokumente was dus ’n bedoelde wanvoorstelling, het Mphela aangevoer.

  • Die saak is tot 11 Desember uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article