Marie Sukers, ACDP-LP, tydens haar onaangekondigde oorsigbesoek by die Warrenton-wateraanleg in Mei vanjaar toe besef is dat “daar niks aangaan nie” ongeag bykans R90 miljoen wat daar bestee is.

Foto: Helena Barnard

Hoewel inwoners van Warrenton ná meer as ses maande sonder water in die krane so drupsgewys watertoevoer het, is omstandighede geensins ideaal of gemaklik nie, en moet hulle sien hoe kosbare water ongebruik deur lekplekke in waterpype wegvloei.

“Die water loop die strate vol,” sê ’n inwoner wat ook opmerk “die water het gekom, maar die krane bly leeg.”

In groot dele van Warrenton kom hewige waterlekplekke voor.

Dit word onder meer veroorsaak deur ’n groot hoeveelheid lekplekke in die waterpype, dat Warrenton ongeveer tien uur per dag beurtkrag beleef wanneer water nie gepomp kan word nie, en dat die water wat wel die reservoirs bereik, “blitsig” opgebruik word, sê Willem Potgieter, DA-raadslid.

Potgieter sê hoewel nuwe lekplekke in die afgelope ses maande in die waterpype ontstaan het, is daar ou en groot lekplekke wat reeds herstel kon wees. Daar is wel “stadige” vordering in die herstel van die lekplekke.

Volgens ’n inwoner is ’n kontrakteur wat optiese veselkabels in die dorp lê, se werknemers grotendeels vir die stukkende pype verantwoordelik.

Dié inwoner sê nie net is waterpype deur die werknemers stukkend gekap of erg beskadig nie, maar is van die huise se watermeters ook geskuif of beskadig.

Eers ’n stofstraat met geen water, nou ’n modderstraat met waterlekplekke.

Inwoners van Warrenton moet sien hoe die water, waarvoor hulle meer as ses maande gewag het, in die strate wegvloei.

Nadat inwoners van Warrenton vir meer as ses maande met droë krane moes saamleef, moet hulle nou sien hoe die water ongebruik wegvloei weens lekplekke in pype.

Hy sê selfs elektriese kabels is beskadig, en volgens hom wil nie of die Magareng-munisipaliteit of die optiese veselkabelkontrakteur daarvoor verantwoordelikheid neem nie.

Volgens ’n ingeligte persoon in die dorp is dit algemene kennis dat die waterpype en kabels deur die kontrakteur se werknemers beskadig is, en dat daar tans druk op die munisipaliteit is om dit te hanteer.

Thapelo Jacobs van die munisipaliteit sê op navraag dat verdere inligting later hieroor bekend gemaak sal word.

’n Vloed wat in Februarie plaasgevind het, het veroorsaak dat die hoofwatertoevoerleiding wat deur die Vaalrivier strek, beskadig is en water nie vanaf die wateraanleg na die dorp gepomp kon word nie.

Ná maande van wat as politiekery bestempel is, is die lê van ’n tydelike pyp deur die rivier uiteindelik voltooi, en kon water weer deur die pype vloei. Die tydelike pyp, net soos die ou een wat beskadig is, is egter nie voldoende om aan die dorp se groeiende waterbehoefte te voorsien nie.

Vir dié rede is daar jare gelede reeds begin om die Warrenton-wateraanleg op te knap en te vergroot.

Ná miljoene rande en baie jare het dit egter tydens ’n onaangekondigde oorsigbesoek in Mei van Marie Sukers, ACDP-LP, geblyk dat “daar niks aangaan nie” ongeag byna R90 miljoen wat reeds by die wateraanleg bestee is.

Marie Sukers, ACDP-LP, tydens haar onaangekondigde oorsigbesoek by die Warrenton-wateraanleg in Mei vanjaar toe besef is dat “daar niks aangaan nie” ongeag bykans R90 miljoen wat daar bestee is.

Geen onlangse konstruksiewerk was by die Warrenton-wateraanleg sigbaar tydens ’n oorsigbesoek in Mei vanjaar.

’n Nuwe en dikker permanente hoofwatertoevoerpyp wat in die afgelope maande aan die Magrieta Prinsloo-laagwaterbrug geheg is, en nog nie in gebruik is nie, sal bowendien eers tot sy volle kapasiteit gebruik kan word indien die wateraanleg se kapasiteit ook verhoog.

Ná die besoek van Sukers het talle ander besoeke en aksies gevolg om die fokus op die wanfunksionele wateraanleg, met miljoene rande wat op konstruksiewerk bestee is wat oënskynlik nie gebeur het, te plaas.

Op Dinsdag 5 September het Sukers in ’n stemboodskap aan inwoners van Warrenton laat weet dat hul noodkreet hard en duidelik gehoor is deur die petisie wat hulle opgestel het.

Sy sê onder meer dat ’n volledige verslag versoek is van al die geld wat sedert 2017 op water-en-sanitasie-projekte in Warrenton bestee is.

“Die oë vanaf die nasionale wetgewer is nou op Warrenton, en op die sake en uitdagings rakende water en sanitasie,” sê sy.

Sukers sê voorts dat diegene wat vir dienslewering in die gebied van die Magareng-munisipaliteit verantwoordelik is, nou rekenskap moet gee, en ook vir die slakkepas waarmee sake in Warrenton hanteer is.

Vir meer as ses maande het inwoners van Warrenton wagtend vir die watertenkwaens geleef, en moes hulle houer vir houer met water na hul huise aandra. Vir talle inwoners in die dorp is die stryd egter nog nie verby nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article