’n Geelwortel van R100 000 is op die spel vir die algehele wenner van die Airlink-beker waaraan vier spanne, wat die Griekwas en die Pumas insluit, later vanjaar deelneem.

Die Luiperds en die Griffons is die ander spanne wat in aksie sal wees in dié reeks, wat vanjaar die eerste keer gehou word.

Die eerste wedstryd vind op 4 November plaas wanneer die Pumas en die Poubloues mekaar in Welkom die stryd aansê.

In die ander wedstryd in die eerste ronde, wat ook in Welkom beslis word, sal die Luiperds en die Perses mekaar pak.

Daarna kom die spanne in ’n rondomtalie-formaat in Potchefstroom, op 11 November, en Kimberley, op 25 November, teen mekaar te staan. Die eindstryd en die uitspeelstryd om die derde plek sal op 2 Desember in Mbombela beslis word.

’n Bykomende motivering vir spanne om hul beste spel te lewer is dat die R100 000 slegs vir die algehele wenner is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article