Die laaste strale van die son het oor die kabbelende waters van die Rietrivier verdwyn en die maan met sy geel gesig glimlag uit die ooste oor die doringvelde van Mokala.
In die naglug daal die kwik vinnig. Yskristalle sit soos diamantjies aan die kampplek se rotse. Dit sou ’n eeu gelede ’n nuwe vloedgolf van mense na die diamantvelde laat kom het.
Maar die son vervaag sulke dagdrome oor vinnige rykdom.
Knus in ons bakkie prut-prut ons deur die veld, oë vol afwagting. Die eerstes wat ’n mens se asem wegslaan, is ’n trop bastergemsbokke. Hulle pluk rustig aan die gras – asof die mens se teenwoordigheid ’n nietigheid is. Waar die bome begin veld volmaak, staan hulle – weemoedige herinneringe van dekades gelede toe hulle volop op die Nyl se vloedvlaktes was.
By die drinkplek stap buffels lui-lui van die water af met bekke kwylend van die yskoue drinkgoed.
Elande troon hoog oor selfs die grootste buffel.
Springboktroppe draf flinkvoet oor die pad met enkeles wat dan en wan die lug inborrel met pronke oopgetrek en koppe biddend aarde toe gebuig. Diknekramme daag mekaar en skop Kalahari-stof in wolke op.
Blouwildebeeste se donker lywe staan ver weg in die kameeldorings en twee rooihartbeeste het pad gevat na die sonkant van die koppie.
Dit is Mokala. Wonderwêreld suid van die diamantvelde waar grote bome en sandveldgrasse die geskiedenis van voorgangers uitgewis het.
- Verdoorn is ’n natuurliefhebber en bewaarder. Bron: Netwerk24.



