In sy 1963-treffer “Blowin’ in the wind” vra Bob Dylan verskeie retoriese vrae met vrede, vryheid en oorlog as tema.
’n Antwoord word nie op retoriese vrae verwag nie, maar in alle eerlikheid kan ’n mens 60 jaar later sê: “Sowaar Bob, ons het steeds geen idee nie”.
“The answer is blowin’ in the wind,” sing Dylan, en net soos in 1963 is die mens nie in staat om die antwoord te gryp voordat die wind dit wegwaai nie.
Met die heersende wind vanuit die noordweste wat in Augustus en September so onregeerbaar in die sentrale binneland te kere gaan, voel ’n mens tegelykertyd hoop en wanhoop.
Soggens, met die eerste oopmaak van ’n deur en voordat die wind moedeloosheid uitwaai, wil jy jou verbeel dat jy reën in die lug ruik. Saam met lente, botsels en eerste blomknoppe, is reën ’n teken van vernuwing, ’n nuwe seisoen en hoop.
Maar wanneer die wind ruk en pluk, en papiere oor die heining tot teen jou nuutblommende plante vaswaai, en wanneer die wind woedende vuurtonge oor duisende hektare jaag, en wanneer ’n rioolreuk oor Kimberley, Kakamas en Kuruman aanwaai, voel ’n mens wanhoop.
Soos einste Dylan in “The times they are a-changing” sing: “admit that the waters / around you have grown / and you better start swimmin’/ or you’ll sink like stone / come senators, congressmen / the battle outside ragin’ / will soon shake your windows / and rattle your walls”.
In ’n hoofartikel in Daily Maverick skryf Mark Heywood dat daar ’n onrustigheid by die mensdom is: Hulle wil aktiewe burgers wees om die samelewing te verbeter, want hulle het werkbare idees.
Maar mense het geleer dat hulle nie mag nie; nie mag het nie. Hy skryf ons is subtiel en nie-subtiel in wanorde gegooi, het kontak met mekaar verloor en in die proses geleer om te wantrou.
Die grootskaalse herlewing van demokratiese organisering is die grootste uitdaging én oplossing meen hy.
Intussen moet ons aanhou balanseer met die hoop wat ons wel vind.
Al is dit in groen botsels en pienk bloeisels, of om saam met Dylan te sing.

