Die oorvol Kamfersdam in Kimberley aan weerskante van die spoorlyn tussen Johannesburg en Kaapstad. Die watermassa druk ook teen die N12-hoofweg aan.

Foto: Charné Kemp

Die eienaar van die plaas waarop Kamfersdam is, is hoogs ontsteld en raadop omdat die Sol Plaatje-munisipaliteit aanhou om onverwerkte rioolwater van die wanfunksionele Homevale-aanleg na Kamfersdam te pomp, wat die plaas stuk vir stuk verswelg.

“Dit is ’n ramp,” meen die eienaar wat daagliks sien hoe die watervlak styg en hoe dit die grondoppervlak inneem.

“Die water weerskante van die hoofpad en hoofspoorlyn styg daagliks. Een van die dae gaan ’n trein in die water beland.”

Die oorvol Kamfersdam in Kimberley aan weerskante van die spoorlyn tussen Johannesburg en Kaapstad. Die watermassa druk ook teen die N12-hoofweg aan.

Die eienaar, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het al talle prokureursbriewe na die munisipaliteit gestuur, wat onbeantwoord bly.

“Geen amptenaar was al vanjaar hier om te kyk wat die omvang van die probleem is nie. Hulle stel net nie belang om die probleem op te los nie.”

Benewens dat die wild se weiveld verswelg word, vrek bome en grasse waaraan die wild moet vreet. Vreemde sade ontkiem en uitheemse plante kom op.

“Die grond is besmet en dit sal miljoene kos om dit te rehabiliteer.”
Eienaar van grond

Die eienaar sê benewens rou riool, vloei daar ook bloed, stukke bloed en dierehuide van die nabygeleë slagplaas in Kamfersdam weens die munisipaliteit se onklaar pompe en lekkende pypleiding.

“Die dam, wat eintlik ’n seisoenale droë pan is, was nog nooit so vol nie. Daar is slegs enkele flaminke oor, want die water is te diep vir hulle om aan die groen alge te vreet.”

Daar is enkele flaminke op Kamfersdam oor.

Intussen word die N12-hoofroete na Johannesburg ook bedreig, asook die spoorlyn tussen Johannesburg en Kaapstad. Die spoorlyn na Postmasburg is lankal in onbruik weens die oorspoelde spoorlyn.

“Ek het nou die Menseregtekommissie (MRK) genader. Iets moet gedoen word om die probleem op te los.”

In die beginjare van die Homevale-rioolaanleg is gesuiwerde, bruikbare afvalwater in Kamfersdam gepomp.

“Dit is deur reënwater aangevul. Nou is dit te besmet om bruikbaar te wees.

“Die diere op die plaas drink nie aan die water nie, want dit is ooglopend besmet. Die water het ’n hoë soutinhoud. Met die besoedeling is die water heeltemal onbruikbaar. Muskiete en ander plae kan in die watermassa uitbroei.”

Kamfersdam wat met rioolvuil besmet is, is besig om aangrensende plase te verswelg.

Die MRK het bevestig dat hy die rioolprobleme in en om die stad ondersoek en met die owerhede in gesprek is.

Besmet met E.coli
AfriForum het onlangs toetse gedoen en bevind dat die watergehalte swak en met E.coli-bakterieë besmet is.

Thoko Riet, munisipale woordvoerder, sê die aanleg is gevandaliseer en daarom werk sekere meganiese komponente nie.

“Die water in Kamfersdam is van aanvaarbare standaard. Ons sal moontlik die plaaseienaar gaan spreek, maar die water in Kamfersdam is van aanvaarbare gehalte.”

Sy het nie vrae oor die water wat die plaas inneem, rehabilitasie en oplossings vir die wanfunksionele Homevale-rioolaanleg beantwoord nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article