September is reeds verby sy halfpadmerk en tot dusver is weinig bewusmaking rondom Boomplantmaand gedoen.
Soos wat dit met talle aspekte van die lewe gaan, word die basiese gou vir belangriker-klinkende sake agterweë gelaat.
So word in die Suid-Afrikaanse milieu eerder nog ’n komitee gestig, nog ’n werksessie aangebied, nog wolhaarstories as waarheid verkoop – terwyl blink motors (met politici, leiers en ander verantwoordbares met rooskleurige brillense) op pad soontoe deur slaggate hink en pink; riool huise oorstroom; krane droog is; ligte nie meer skyn nie; en die haweloses op sypaadjies onder geskeurde komberse en gevoude kartonbokse al hoe meer word.
Om ’n boom te plant, en om die plant van bome aan te moedig, is een van die basiese take wat die mens het.
In beboude gebiede kan bome die straattemperatuur met tot soveel soos 12 °C laat daal. Bome suiwer die lug wat ons inasem van gasse en ander besoedeling. Boonop sê die organisasie TreePeople op treepeople.org dat bome wat op die regte plekke langs ’n huis geplant is, die huis in die somer koel sal hou en as ’n windbreker dien.
Bome is goed vir die mens – hul ingewikkelde wortelstelsel help onder meer om waterbesoedeling te verminder, erosie teen te werk en meer reënwater op te vang. Dit is die tuiste van voëls wat positiewe energie gee en help om die mens se natuurlike dag- en nagroetine te handhaaf.
Studies het aangetoon dat pasiënte wat ’n uitsig oor bome het vinniger herstel, en kinders met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom rustiger is as hulle toegang tot die natuur het.
In internasionale studies is ook bevind dat meer geweld voorkom in woonbuurte en huise met dor en kaal erwe.
Dié naweek word Erfenisdag gevier, ook sommer Braaidag genoem.
Al gewonder waar kom jou vleisbraaihout vandaan, jy wat nog nooit in jou lewe ’n boom geplant het nie?




