Die 19de jaarlikse Tour de Ghaap, ’n bergfietswedren in twee skofte met ’n roete wat deur ’n deel van die Noord-Kaap strek, het deelnemers weer laat stof eet en bloed sweet.
Dié wedren wat deur die Berg-landbouvereniging vanaf die Ulco-gholfbaan aangebied word, se eerste skof op Saterdag 9 September het oor 75 km gestrek. Op dag twee moes fietsryers 47 km baasraak. Die o.16-fietsryers en die minder fikses ry op dag een 45 km en op dag twee die volle 47 km.
Twee bekendes in die bergfiets-milieu het onderskeidelik as mans- en vrouewenner eerste oor die eindstreep getrap. Die manswenner is Dusty Day van Klerksdorp en die vrouewenner Tanya Roos van Bloemfontein. Die wenner in die o.16-seunsafdeling is Franco van Heerden van Bethlehem.
Pieter Niemann, wedrenorganiseerder, sê die Tour de Ghaap behels ’n uitdagende roete oor ’n terrein met onder meer tweespoorsandpaaie en klippe. Hy beskryf die byeenkoms as ideaal vir die hele gesin, met ’n fietsren vir kinders. Toenemende fokus word op die o.16-deelnemers geplaas.
Deelnemers en gesinne oornag in ’n goed toegeruste kampterrein in Ulco.
- Vir meer inligting, die datum vir 2024 se byeenkoms en die volledige uitslae, besoek tourdeghaap.com of die Facebook-blad Tour de Ghaap.





