“Far too often, the best thing I can have in my hand when someone makes a promise is a really big broom so that I can sweep up the broken pieces.” – Craig D. Lounsbrough

Die gebreekte stukke is groot, in oormaat, wyd versprei. Nog ’n spul beloftes is op pad so voor die tussenver­kiesings en volgende jaar se verkiesing.

Die vrae maal soos brommers om die vrot riool wat ons in eie strate bekruip en damme om Kimberley skep. Riooldamme wat paaie, treinspore en plase – wat ekonomiese groei moet meebring – morsaf sny.

In 2019 het beloftes van ’n “tenderlose administrasie” neergereën, maar dit het in die gekraakte aardkors weggesink.

Waar is die streng optrede teen lui en korrupte amptenare? Waar is die staatsbeheerde konstruksie­maatskappy, die staatsbeheerde mynmaatskappy, sekuriteitsmaat­skappy, die provinsiale oorlogs­kamer en beleggingsraad? Sou hy dan nie toelaat dat Kimberley op sy wagbeurt inmekaarstort nie?

Te midde van beloftes dat duur motors nie gekoop sal word nie terwyl “ons siek mense op ambu­lanse wag”, is luukse motors glo afgelewer. Die ouditeur-generaal gebruik die woorde “verantwoord­baarheid” en “regstellende optrede” talle kere in haar nuutste provinsiale oorsig, haar versugting dat sy dit skaars vind.

Terwyl die teikens vir diens­lewering skaars behaal word en lewensgehalte en moed daal, val ons trane op stukke glas.

Beloftes wat soos ’n spieël gespat, gebars, ontplof het. Ons tel die stukke met bebloede hande op terwyl ons moeë oë terugkyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article