Die partye in die hooggeregshofsaal waar die DA ’n aansoek teen ANC en EFF-raadslede gebring het.

Foto: Charné Kemp

Inwoners van Kathu en amptenary van die Gamagara-munisipaliteit moet meer as ’n maand wag voordat aansoeke in die hooggeregshof aangehoor word oor die mosies van wantroue in die burgemeester en speaker.

Die partye in die hooggeregshofsaal waar die DA ’n aansoek teen ANC en EFF-raadslede gebring het.

’n Uiteindelike uitspraak behoort vir eers ’n einde aan die onstuimige politiekery te bring.

Dit kom nadat die hooggeregshof in Kimberley aan die einde van Augustus ’n interdik aan die DA toegestaan het rakende ’n onwettige raadsvergadering op 7 Augustus.

Op die vergadering is Henriëtte du Plessis, DA-lid, en Shepherd Mines van die Gamagara-gemeenskapsforum onregmatig uitgeskop. Die daaropvolgende verkiesing van Johannes Roman van die ANC as burgemeester en Goitseone Sekgopi van die EFF as speaker is ook ongeldig verklaar. Die raadsbesluite in daaropvolgende raadsvergaderings op 10, 17 en 30 Augustus geneem, is tersyde gestel. Die hersieningsaansoek van die DA, Du Plessis en Mines is teen Lebogang Seetile, munisipale bestuurder, Roman, Sekgopi, ander betrokke raadslede en die munisipaliteit.

In die teenaansoek betwis die verweerders dat Du Plessis se verkiesing op 29 Mei wettig was.

Die regsgeding het ontstaan nadat Du Plessis en Mines op 29 Mei, ná ’n suksesvolle mosie van wantroue teen die burgemeester en speaker, as burgemeester en speaker verkies maar op 7 Augustus op onwettige wyse uitgestem is.

Volgens die aansoekers was daar aanvanklik ’n wettige raadsvergadering op die oggend van 7 Augustus. Mines as speaker het die sekuriteitswagte versoek om rdl. Stephen Magagana van die ANC te verwyder weens oproerige gedrag.

Oproerige mense buite die raadsaal het die sekuriteitswagte gedreig, waarna Mines in ooreenstemming met die partyswepe die vergadering amptelik verdaag het. Die DA ontken dat hulle uit die vergadering geloop het.

Raadsvergadering op onwettige wyse geroep
Seetile het later die dag en sonder behoorlike kennisgewing op onwettige wyse weer ’n raadsvergadering geroep waarop Roman en Sekgopi onderskeidelik as burgemeester en speaker verkies is. Volgens die staande reëls kan ’n burgemeester (Du Plessis) eers drie maande ná ’n verkiesing deur ’n mosie verwyder word, wat eers op 29 Augustus sou verstryk.

Voorts was daar nie ’n kworum by die betwiste vergadering nie omdat Magagana uit die raadsvergadering geskop is.

Die DA vind die teenaansoek vreemd, omdat daar geen ontevredenheid was ná Du Plessis se verkiesing nie, eers 91 dae daarna.

Die verweerders het toegegee dat die betwiste vergadering op 7 Augustus onwettig was, maar voer aan Du Plessis is onwettig as burgemeester verkies.

Die mosie van wantroue in Ophaketse Hantise, eertydse ANC-burgemeester, en die stemmery om hom te verwyder was onwettig. Daar was nie behoorlike kennisgewing aan die betrokkenes gegee voor die vergadering nie. Die raadsbesluit moet ook op hersiening geneem word.

Harold McGluwa en Henriëtte du Plessis voor die Hooggeregshof in Kimberley.

Hulle weier dat hul teenaansoek van die rol geskrap word. Hul voorstel is dat Hantise weer tot burgemeester verkies word en Mines as speaker aanbly.

Harold McGluwa, Noord-Kaapse DA-leier, sê in ’n verklaring hul aansoek “is ’n waarskuwing aan politieke partye dat onwettige magsvergrype in die raad, wat poog om toegang tot hulpbronne te verkry ten koste van dienslewering, nie geduld word nie”.

Hy sê Du Plessis het in haar ampstermyn die begrotingstekort van R47 miljoen binne tien dae in ’n oorskot van R19 miljoen omgeskakel en die luukse ampsvoertuig vir twee bakkies ingeruil wat deur die elektrisiteits- en paaie-afdeling gebruik word.

Die foto van die die luukse ampsvoertuig.

“Ná die onwettige verkiesing deur die ANC- en EFF-koalisie het die stadsbestuurder die slotte op die kantoordeur verander.

“Met haar terugkeer (nadat die interdik toegestaan is) het sy die nuwe huurkontrakte vir ’n Audi vir die ANC-burgemeester en ’n bakkie vir die EFF-speaker kanselleer.”

Die hoof- en teenaansoek wat op 13 September aangehoor sou word, is na 2 November uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article