’n Halfmaan aan die bokant en ’n kort strepie aan die onderkant, afgeëindig met ’n punt ’n entjie onder die strepie – dit is die slanke figuur van ’n vraagteken.

Die wêreld bestaan uit ’n mengelmoes van vrae.

Soms voel dit asof die vrae meer word en die antwoorde minder.

Vrae word om verskillende redes gevra. Party mense vra vrae omdat hulle graag wil weet wat die antwoorde is. Hulle stel belang in sekere tegnieke of geskiedenis of verandering en vra die vrae omdat dit hul belangstelling prikkel.

Ander mense vra vrae omdat hulle werklik belang stel.

Hulle sal jou uitvra oor jou gesondheid of hoe dit by die werk gaan.

Hulle sal die kinders vra hoe dit met hul sport of skoolwerk gaan. Hulle vra omdat hulle belangstel en die antwoorde vir hulle belangrik is.

Mense vra vrae om iets te leer. Gestel jy verstaan nie ’n rekeningkundige begrip of ’n wiskundige probleem nie; dan vra mense iemand met ondervinding om dit aan hulle te verduidelik.

Daar is inderdaad mense wat vrae vra bloot omdat hulle fout soek. Hulle wil nie iets leer nie. Hulle stel nie belang nie. Hulle nuuskierigheid word nie geprikkel nie.

Hierdie soort vrae word bloot gevra omdat hulle hoop die antwoord bring iemand in die moeilikheid.

Van al die vrae wat gevra kan word, is hierdie tog sekerlik nie die gewenste opsie nie?

Mag ons om die regte redes die regte vrae vra.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article