Twee jeugdiges wat inwoners by die Jannie Roux kinder- en jeugsorgsentrum in Barkly-Wes is, benodig dringend geldelike hulp om die komende vakansie ’n Bybelkamp te kan bywoon.
In ’n video wat Marvin Farmer, maatskaplike werker, en Simon van Rooyen, assistent, spesiaal verfilm het, vertel hulle dat die twee jeugdiges uitgenooi is om die Steps for Christ-organisasie se Bybelkamp in Sedgefield by te woon. Sedert die video verfilm is, het hewige reën en storms onder meer die Sedgefield-gebied getref, en gaan die kamp soos verlede jaar by Vioolsdrift aangebied word.
“Dié twee seuns, ’n 13-jarige en ’n 17-jarige, het geen familie by wie hulle naweke of vakansies uitgeplaas word nie, en hulle is meestal net hier by die sentrum,” vertel Farmer.
“Om die kamp by te woon, sal vir hulle so waardevol wees. Van die grootste uitdagings wat hierdie jeugdiges beleef, kom van die gevoel dat hulle nêrens hoort nie,” sê hy.
Hy vertel van ’n jeugdige van die sentrum wat tydens verlede jaar se kamp so ’n hegte verhouding met ’n gesin daar aangeknoop het, dat hy die vakansie by die gesin uitgeplaas word.
“Die 17-jarige seun is vanaf 2012 by ons, en hy is nog selde uitgeplaas,” vertel Farmer.
Tydens die kampe word die kinders blootgestel aan ’n verskeidenheid leergeleenthede soos beroepsvoorligting, lewensvaardighede, entrepeneurskap, wildernisterapie, landbou, om net ’n paar te noem. Bywoning van die kamp dra ook daartoe by om betekenisvolle verhoudings met maats en volwassenes te kweek.
“Ek woon al van 2019 hierdie kampe van Steps for Christ by en kan persoonlik getuig van die impak en die kragtigheid wat dit die jeug bied.
“Die bywoning van die kamp is ’n geleentheid, en as ’n geleentheid kom, wil ons dit aangryp.”
Jeugdiges wat die kamp bywoon, vertrek Sondag 1 Oktober, en keer op Sondag 8 Oktober terug.
- Behalwe geld om die kampbywoning te betaal, het hierdie twee jeugdiges ook klere en skoene vir die kamp nodig.
- Persone, organisasies of ondernemings wat kan help, kan vir Farmer by 053-531-0500 of 076-260-7312 bel.
- Farmer wys moontlike skenkers daarop dat geen van die nommers in werking is wanneer beurtkrag plaasvind nie. Indien daar nie antwoord is nie, probeer asseblief later weer.
Vir meer inligting oor die kamp, besoek stepsforchrist.co.za.


