“I’ve always envied people who sleep easily. Their brains must be cleaner, the floorboards of the skull well swept, all the little monsters closed up in a steamer trunk at the foot of the bed.” David Benioff, City of Thieves

Gedaan glip jy tussen die lakens in. Vanaand gaan jy goed slaap. Dit moet mos so wees.

Jy is gekoester in jou eie bed, met jou kussings. Selfs jou eie honde hou waak. Veral ná alles wat in net vier dae oor ’n paar provinsies heen afgespeel het.

Dit was ’n lang naweek waarin eindelose kilometers na die groot stad en terug afgelê is.

Daar is by tannies gekuier, koek geëet, deur tuine gestap, gepraat, gelag, gehuil.

Elders was daar die verliefde niggies en hul nuwe kêrels so jonk, vol drome, planne en ambisie.

Later by vriende, sit ons aan by ’n huispaleis, ryklik versier met kuns. Wyn word geskink, kos geniet, die lewe gevier. Die land se probleme bespreek, hoop geopper.

Ons verlustig en verluister ons aan vreemde voëlsang, vryf ’n ander hond se kop. Toe ’n lang staptog in die bos verby murasies. ’n Ontbytafspraak met dierbares. Musiek laat trane van verlange loop oor diegene wat ons vooruit is. Koffie wat die siel lawe, koekies wat in die mond smelt. ’n Bruilof, lag, huil, gesels.

Eet, drink, dans. Wegbreek van die gedoef-doef en vir die volmaan tussen die bome staar.

Want die lang pad lê more voor. Wanneer jy jou oë uiteindelik in jou eie bed sluit, verdryf gedagtes die nagrus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article