Vir die tweede keer in vyf jaar is die Noord-Kaapse o.30-rolbalspan as die kampioen van die Suid-Afrikaanse o.30-rolbaltoernooi gekroon.
Vanjaar se sege beskryf die president van Noord-Kaap-rolbal, Braam van der Westhuizen, as ’n ongelooflike prestasie omdat die provinsie nie veel o.30-spelers het om vir die A- en B-span te kies nie.
“Ander provinsies het tot 800 spelers om uit te kies, en dit is wat die Noord-Kaap se prestasie soveel meer merkwaardig maak,” sê hy.
“Die A-span het briljant gespeel, aanvanklik met 2 – 8 agter tydens die eindstryd, maar met 15 – 11 gewen. Die spelers se kalmte, deursettingsvermoë, spelpeil en konsentrasie was ongekend.”
Van der Westhuizen het net lof vir die manier hoe kaptein Charles-Peter (CP) Mathewson die span gelei het.
Hy sê die president van Suid-Afrikaanse Rolbal, Heather Boucher, het met die oorhandiging van die trofee gesê die eindstryd het dieselfde gehalte spel opgelewer as wat in Australië gespeel word.
Spelers vir die B-span het vanaf Van der Kloof, Prieska en Upington gekom. Hulle het nooit voorheen saam gespeel nie, maar steeds hul laaste wedstryd teen die span wat bo hulle in die afdeling was, gewen. Dit was die eerste maal dat Noord-Kaap ’n tweede span ingeskryf het.
Die toernooi het van Saterdag 23 September tot die Dinsdag by die Klerksdorp-rolbalklub plaasgevind, en Susan Cilliers berig dit was die grootste toernooi tot dusver vir spelers in hierdie ouderdomsgroep. Altesaam 40 spanne van oor Suid-Afrika en Namibië heen het deelgeneem, met elke span wat uit vier spelers bestaan. Vier groepe van tien spanne elk het oor drie dae meegeding om ’n groepwenner te bepaal om in die halfeindstryd te speel.
Mathewson sê hy is ongelooflik trots op wat die span vermag het.
Driaan van Niekerk, wat saam met hom in die o.30-span was toe Noord-Kaap in 2018 ook die titel verower het, sê die Noord-Kapenaars het sterk spanne soos die Westelike Provinsie, Noordwes en Oostelike Provinsie in die groepwedstryde geklop. In die halfeindstryd het hulle met Namibië afgereken, en in die eindstryd met Port Natal.
“Ons het stadig in die eindstryd begin, maar die span het strydlus getoon en die regte ingesteldheid gehad om aan te hou tot by die sege aan die einde,” sê Van Niekerk.
André Olivier, woordvoerder vir die toernooi, het aan Cilliers vertel dat “briljante rolbal” gespeel is. Hy sê die mite dat rolbal deur meestal ouer mense gespeel word, is vinnig aan die verdwyn danksy die jonger geslag spelers wat na vore tree.
“Dis glad nie ongehoord om te hoor van 20-jariges wat hul nasionale kleure in hul onderskeie lande verwerf nie. Rolbal op klubvlak is ’n sosiaal mededingende sport, maar daar word ook op provinsiale, nasionale en internasionale vlak meegeding. Met die jonger garde se geesdrif en mededingende geaardheid is dit duidelik dat die sportsoort al hoe jonger word.”
Olivier sê die jonger geslag verander die aard van rolbal, met die ouer garde wat vinnig aanpas. Die versnellende pas van die spel dra by tot die gewildheid onder die jonges.
Olivier sê rolbal is ook gewild onder mense met gestremdhede, en Suid-Afrika spog met wêreldkampioene in dié afdeling.
Rolbal is nog nie ’n Olimpiese sportsoort nie, en die hoogste vlak van deelname is die Statebondspele en wêreldkampioenskappe.




