Talle dorpe, padstalle en ander liggings langs hoofroetes in die Noord-Kaap is van die punte waar sonkrag-aangedrewe herlaaistasies vir elektriese voertuie (EV’s) beplan word.
Met al hoe meer motorvervaardigers wat volgens spesifieke mikpunte die produksie van binnebrandenjins afskaal, word die inwerkingstelling en gebruik van EV’s al meer ’n werklikheid.
Vanweë die internasionaal geïntegreerde verskaffingsketting van voertuie sal dit ongetwyfeld na Suid-Afrika uitkring.
Gedagtig aan onder meer afhanklikheid aan Eskom se beurtkragskedule en herlaaistasies wat nog net hier en daar in stede beskikbaar is, is EV’s nog nie ’n konsep waarmee Suid-Afrikaners gemaklik voel nie.
Joubert Roux, mede-stigter en direkteur van Zero Carbon Charge, is egter van mening dat sodra daar ’n doeltreffende en meer beskikbare herlaainetwerk oor die land heen beskikbaar is, die gebruik van EV’s om verskeie redes sal toeneem.
Op ’n inligtingsessie op Dinsdagoggend 3 Oktober in Kimberley het Roux gesê dat Charge daarna mik om ’n netwerk van herlaaistasies vir EV’s langs die land se belangrikste hoofpaaie op te rig – wat sonkrag-aangedrewe gaan wees, en onafhanklik van Eskom.
Roux sê meer as 120 liggings oor die land heen is reeds vir herlaaistasies identifiseer, waarvan talle in die Noord-Kaap is. Die doelwit is om teen September 2025 dié aantal herlaaistasies in werking te hê, met meer wat volg.
“Charge se mark is buite die stadsgebiede,” sê Roux.
“Hierdie sonkrag-aangedrewe herlaaistasies langs hoofroetes van die land gaan ’n fundamentele verandering meebring, met die opwekking van energie wat plaaslik plaasvind.”
’n Herlaaistasie hou ekonomiese voordele vir elke ligging in, sê hy.
Charge beoog om binne ’n afstand van 150 km vanaf ’n vorige punt ’n herlaaistasie te hê. By dié herlaaistasies sal herlaaiing baie vinnig plaasvind, vinniger as dit wat tans elders beskikbaar is. Die voertuigeienaar sal die herlaaiproses op ’n app op sy selfoon kan moniteer, met die betaling wat ook elektronies geskied.
Ruimte word vereis om genoeg sonpanele vir ’n herlaaistasie op te rig, en daarom word vennootskappe met grondeienaars of eienaars van gewilde langpad-stilhouplekke aangegaan. By elke herlaaistasie sal kleedkamers en ’n bestaande onderneming soos ’n padstal wees.
Ongeag uitdagings in die regulatoriese omgewing, “veg ons dit van loopgraaf tot loopgraaf,” sê Roux, met private grondeienaars, munisipaliteite, staatsdepartemente en meer wat betrokkenes in die proses is.
Oprigting van die eerste herlaaistasies sal laat vanjaar of vroeg volgende jaar begin.
Die eerste drie herlaaistasies is in die Wes-Kaap; by Atlantis, Piketberg en Tulbagh. Die vierde herlaaistasie gaan by Wolmaransstad opgerig word, met nog wat langs dié besige N12-roete beplan word. Die proses van goedkeuring en permitte is reeds aan die gang.
Volgens Roux koop ’n bekende busdiensmaatskappy in Kaapstad reeds net elektries-aangedrewe busse aan wanneer ’n bus vervang moet word. Dié busdiens beplan ook onder meer om sy depots se afdakke met sonpanele toe te rus.
Al hoe meer koeriermaatskappye en supermarkgroepe beproef ook die gebruik van EV’s.
Francois Williams berig op Netwerk24 dat dit onafwendbaar is dat internasionale motorvervaardigers na EV’s oorskuif. Hulle word bykans gedwing sodat hulle nie hul markaandeel wat oor die afgelope eeu opgebou is aan nuwe vervaardigers soos Tesla afstaan nie, skryf hy.
- Vir meer inligting, besoek charge.co.za.





