Die komende tussenverkiesing op 11 Oktober in wyk 1 in Kimberley het in ’n drama ontaard nadat die DA uitgeskakel is omdat sy kandidaat na die Patriotic Alliance (PA) oorgeloop het. Die DA kon weens ’n gebrek aan tyd nie ’n ander kandidaat voor die spertyd vir die tussenverkiesing registreer nie.
Terwyl beskuldigings van “onetiese, lafhartige en gewetenlose optrede” na die PA geslinger word oor “kandidaat-diefstal” en “swendelpolitiek”, vra die ANC nou dat DA-kiesers vir hom stem.
Die komende tussenverkiesing is van uiterste belang vir die ANC wat net met een setel in die Sol Plaatje-munisipaliteit regeer.
In sy reaksie veroordeel Harold McGluwa, provinsiale DA-leier, die PA se gebruik van “onetiese taktiek om ons te verhoed om aan die komende tussenverkiesing mee te ding”, ten sterkste.
“Enkele dae nadat Jocelyn Hart, ’n jarelange DA-lid en aktivis, as ons kandidaat aangekondig is, het die PA haar aansluiting by hulle verwelkom. Hart se bedankingsbrief aan die DA en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) toon duidelik haar skuif is dur die PA bewimpel.
“Dieselfde neiging het onlangs in twee wyke in Johannesburg en een in George afgespeel waar kandidate onttrek met óf geen óf baie min tyd om ’n alternatiewe kandidaat in te stel. Dit is nie toevallig dat die kandidate in minstens twee gevalle dadelik by die PA aangesluit het nie.
“Ons het ons toenemende kommer oor die voorverkiesing-oorlopery by ons federale kantoor rapporteer. Hulle moet ingrypende verkiesingshervormings oorweeg om swendelpolitiek te bekamp.
“Die PA toon ’n toenemende gebrek aan waardes en integriteit, ’n gebrek aan selfvertroue om regverdig te wen, en toon ook lafhartigheid. Die PA is nie beter as die ANC of die Economic Freedom Fighters (EFF) nie. Ons sal die beginsels van vrye en regverdige verkiesings bly beskerm. Kiesers moet op demokratiese wyse hul kandidaat kies in ’n verkiesing wat onbevlek is deur vermoedens van geld wat hande verwissel.”
Thabo Mothibi, ANC-woordvoerder, sê hulle “is ewe verstom” deur bewerings dat die PA die DA verhinder het om aan die tussenverkiesing in wyk 1 deel te neem.
“Dis kommerwekkend dat ons ses maande later in nog ’n tussenverkiesing gedwing is weens persoonlike ambisie, omdat ons ook die prooi van die PA se skelmstreke was.
Hy versoek DA-ondersteuners om vir die ANC te stem.
“ANC-raadslidkandidate het ’n belofte aangegaan om inwoners 24 uur per week ywerig te dien.
“Ons moet nooit ruimte gee vir die PA se rassepolitiek wat poog om ons sosiale samehorigheid en nasiebou ongedaan te maak nie. Aan die buitewyke van Kimberley lê Pniel, ’n geskiedkundige plek van die Korana, Griekwa en Batlhaping wat ons diversiteit en eenheid as ’n volk die beste weerspieël.
“Die PA se rassepolarisasie wat vorige veldtogte beduiwel het, steek nou weer sy lelike kop uit. Roodepan is geteister deur ontstellende hoë vlakke vandalisme op pompstasies en opgaardamme. Ons is oortuig dis sabotasie wat bedoel is om die ANC-beheerde munisipaliteit as onbevoeg uit te beeld en chaos te veroorsaak.”
Sharifa Ferris, PA-provinsiale voorsitter, sê “ons stel die behoeftes van die Roodepan-gemeenskap eerste. Die geskiedenis het homself te veel keer herhaal en die kiesers van wyk 1 is geminag. Vele partye maak beloftes, maar net een party was met die vorige tussenverkiesing besig op grondvlak. Ons het die wyk deurlopend bedien selfs nadat ons teen die ANC verloor het.
“ ’n Stem vir die PA is die enigste kans op verandering om die stad tot sy eertydse glorie te verander. Dis ’n kans om die huidige regerende party uit die raad te stem. Ons maak nie leë beloftes nie en sal inwoners vasberade dien.”
In reaksie op die ANC en DA se beskuldigings, sê Ferris daar is geen bewyse dat die PA agter Hart se bedanking sit nie.
“Dit is ’n partydige stelling. Die kandidaat in Johannesburg het bedank, maar nie by die PA aangesluit nie. Die George-kandidaat het bedank nadat hy valslik deur die DA beskuldig is, en het toe eers by ons aangesluit.
Prof. André Duvenhage, politieke ontleder, sê die politieke atmosfeer in Kimberley is tekenend van die politieke situasie in vele metro’s.
“Die Suid-Afrikaanse politiek is op ’n kantelpunt, veral ná die verkiesings in 2019 en 2021. Daar is ’n hersamestelling in die politieke spektrum met nuwe rolspelers en magsbalans.
“Die ANC is op ’n mespunt, soos in Kimberley. Die party verloor steun in KwaZulu-Natal waar die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) momentum optel. In Noordwes het die ANC ’n tussenverkiesing in Makwassie Hills teen die EFF verloor. Meningspeiling wys die ANC is met reg bekommerd.
Hy sê die PA is veral ’n bedreiging vir die DA.
“Dit kan moontlik ’n skaakmatsituasie laat onwikkel soos in Kimberley. Die kultuur van opposisiepolitiek en vermoë om saam te werk is wankelrig, wat onstabiliteit meebring. Die PA word die koningmaker, maar dit lyk of die PA en ANC se verhouding allermins goed is. Die PA is egter ’n veiliger vennoot vir die ANC as die EFF.
“Daar is vloeibaarheid in ons politieke speelveld, wat die erge frustrasie van burgers in swak sosio-ekonomiese omstandighede weerspieël. Volgens die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) is ons ekonomiese groeikoers nul, werkloosheid groei en brandstofpryse skiet die hoogte in.”





