Nege witkareebome is op die sypaadjie buite die Upington-polisiekantoor as deel van Boomplantmaand geplant, wat in September plaasgevind het.
’n Kokerboom, eie aan die omgewing, is ook reg agter die Kameel-monument by die polisiekantoor geplant.
“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as ’n belangrike deel van die ekostelsels of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron. Bome is simbolies van lewe,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.
Strauss sê Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ’n gemeenskap te maak.
Omdat sulke aangeplante bome deurlopend sorg nodig het, het die AfriForum-tak in Upington onderneem om dit te doen.
Die bome is deur die AfriForum-tak in Upington, in samewerking met die DA, die VF Plus en Rhino Security geplant, terwyl die bome deur raadslede en die plaaslike departement van waterwese geskenk is.
AfriForum het die kunsmis en toerusting verskaf.


