My Oupa Jan het in die plattelandse dorpie Petrusburg, my grootworddorp, afgetree.
Hy was ’n boer van beroep.
Soos die res van sy familie.
Ook in sy kinders en kleinkinders het die boerderybloed dik geloop.
Hy het ’n aartappel geken, kon groente plant en leivore aanlê.
Hy kon windpomp werk en het ’n skaap goed geken.
Ons was tien kleinkinders wat hom oupa kon noem.
Ek onthou so mooi hoe ons in die aande ná huisgodsdiens koffie kon drink, en dan het hy met ons met die kers en die was gespeel.
Hy het ’n druppel kerswas op ons laat drup en gelag as ons verstom is dat dit stol.
Hy kon sy vinger stadig deur die kersvlam trek sonder om te brand en ons het gedink hy het ’n besondere gawe.
Vir ons tien kleinkinders het hy ’n baie spesiale gewoonte gehad.
Vir ons was dit ’n spesiale bederf-gewoonte.
Net voordat jy ry, wanneer jy groet, sou oupa ’n R1 in jou hand stop.
Daardie een rand het vir jou die wêreld beteken. Dit het jou toegevou, veilig, laat voel en die warmte van omgee laat besef.
Ek onthou hoe ma vir hom sê: “Pa kan mos nie die kinders so bederf nie!”
En dan antwoord hy met sy stout, beslissende laggie: “Ek en hulle lewe net een keer.”
Baie keer dink ek aan die lekker warmte van kuier daar, van leer by hom, van liefhê, maar amper elke dag hoor ek hom sê: “Onthou, ’n mens lewe net een keer.”


