Ná ’n beslissing deur die hooggeregshof in Kimberley is die DA-burgemeester van die Gamagara-munisipaliteit, Henriëtte du Plessis, terug in die tuig.
Dié hof het op Donderdag 5 Oktober beslis dat die Gamagara-stadsbestuurder en die 13 ander respondente in die saak verbied word om besluite te neem of optrede te onderneem ingevolge die besluite van die raad.
Dié uitspraak maak die verwydering van Du Plessis deur ’n mosie van wantroue deur die ANC en EFF en die daaropvolgende verkiesing van ’n ANC-burgemeester ongeldig, asook die verwydering van die speaker van die Gamagara-gemeenskapsforum, Shepherd Mines, en die daaropvolgende verkiesing van ’n EFF-speaker.
Harold McGluwa, lid van die provinsiale wetgewer (LPW) en DA-provinsiale leier, sê die party hoop dié hofoorwinning en gevolglike herinstelling van Du Plessis, ’n tweede keer in net meer as ’n maand, sal stop sit aan die mosies van wantroue teen haar totdat die DA se hofstryd teen haar onwettige verwydering op 2 November hervat.
Hy sê Du Plessis sal die munisipaliteit se volle nakoming van sy Eskom-betalingsooreenkoms prioritiseer om verdere verlammende kragonderbrekings te voorkom. Sy sal fokus op die wateruitdagings in Olifantshoek, waar beurtkrag ’n ontwrigtende effek op watervoorsiening het. Kaderontplooiing sal aangepak word, en onreëlmatige aanstellings wat die afgelope maand gedoen is.
Du Plessis het ook die stadsbestuurder opdrag gegee om die luukse voertuig wat vir die ANC-burgemeester en EFF-speaker gehuur is, aan die huurmaatskappy terug te gee.
McGluwa sê die hofuitspraak behoort as ’n waarskuwing te dien dat voortgesette onwettige magsvergrype wat poog om toegang tot hulpbronne tot nadeel van die gemeenskap te verkry, nie geduld sal word nie.



