Die Springbokke sal die eerste keer in vanjaar se wêreldbekerrugbytoernooi in Frankryk nie reeds op ’n Woensdag hul 23-tal vir ’n wed­stryd die daaropvolgende Sondag aankondig nie.

Suid-Afrika het sy 23-talle tot dusver aangekondig op die Woensdae voor die toetse teen Skotland, Roemenië en Tonga, wat almal op ’n Sondag beslis is. Die Bok-span is op die Dinsdag aangekondig voor die ander groep­wedstryd, teen Ierland, wat op ’n Saterdag in Parys beslis is.

Die Bokke se 23-tal vir Sondag se kwarteind­stryd om 21:00 teen Frankryk word egter nou eers Vrydagoggend bekend gemaak by die Roland Garros-sportkompleks, waar Wêreld­rugby se hoof-mediasentrum is.

Die Bokke het op hul vorige besoek aan Parys al hul mediaverpligtinge in hul spanhotel sowat 30 km buite die stad afgehandel, maar van Dinsdag af sal hul nuuskonferensies by die tuiste van die Franse Ope Tennistoernooi gehou word.

Ander spanne in die toernooi het, ingevolge Wêreldrugby se voorskrif, hul spanne eers twee dae voor hul onderskeie wedstryde aange­kondig, maar die Bokke het aan die begin van die toernooi toestemming gekry om hulle s’n vroeër bekend te maak.

Waar hul teenstanders voorheen dus ’n paar dae vroeër reeds geweet het hoe Suid-Afrika se span gaan lyk, sal die Hane hierdie keer ook in spanning moet wag. Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, het op ’n nuuskonferensie gesê hulle sou al Sondag die 23-tal vir die stryd teen die Hane intern aan die spelers bekend maak.

Deon Davids, hulpafrigter van die Bokke, het Maandag breed geglimlag toe hy gevra is waar­om die span eers Vrydag aangekondig word.

“Dis om julle ’n bietjie aan die raai te hou,” sê Davids.

Erasmus-hulle moes ’n paar moeilike besluite neem wat spankeuses betref met die oog op die Franse toets, met Handré Pollard en Lukhanyo Am wat albei beskikbaar is.

Een van die groot besprekingspunte onder die afrigters sou wees wie van Pollard of Manie Libbok op losskakel in die beginspan moet wees en of daar vir albei plek is in die 23-tal. Ook of Am se knie al genoeg op die oefenveld getoets is om hom met gemoedsrus in ’n kwarteindronde los te laat. Dit sal boonop interessant wees om te sien of die Bokke ’n 5/3-, 6/2- of 7/1-plaasvervangerbank kies en of daar plek vir seniors soos Duane Vermeulen en Willie le Roux in die 23-tal is.

Vermeulen en Le Roux het nie die 23-tal teen Ierland gehaal nie.

Erasmus-hulle het intussen eers Maandag­oggend van Toulon na Parys gereis. Die Bokke sou Dinsdag die eerste keer dié week in Parys oefen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article