“Nothing is made, nothing disappears. The same changes, at the same places, never stopping.” – Dejan Stojanovic, The Shape

Dit is ’n verskynsel uit die verlede, die onlangse goeie ou dae. Kan dit wees? Ek staan verstom. Is dit wat dit is?

Dit wek herinneringe aan die klokkies van ’n paar weke gelede.

Ek het uit die huis gehardloop, na die straat gestaar, gewonder of my verbeelding parte met my speel.

Dit gebeur ook wanneer ek by die vierrigtingstopstraat vir hulle uitkyk. Maar hulle het gewyk, elders heen. Hulle skuil nie meer agter bome of bosse of ’n blinde draai nie. Hulle wag nie meer vir my en ander motoriste nie.

Bestaan hulle nog, of is hulle uitgedien? Sekerlik vervang met staatsamptenare wat in honderde in kantore sit en niksdoen en ná die soveelste wegneemete hul vingers gulsig aflek.

Ek skud my kop. Dit is nie reg om na hulle te verlang nie: na die verkeersbeamptes wat boetes uitreik vir onpadwaardige motors en verkeersoortredings. Ek sien hulle net wanneer ’n belangrike politikus die stad besoek.

Lank gelede was daar spesiale polisie-dienste wat spoorlyne, infrastruktuur, munisipale geboue en toerusting bewaak en teen oortreders opgetree het. ’n Skelm bly ’n skelm, maak nie saak in watter regeringstelsel nie.

Dis vreemd om verheug te wees oor ’n posman, of ’n roomysverkoper wat ’n bestaan probeer voer. Enkele gesigte dat ons eens wet en orde in ons strate, en roomys en posstukke by ons huis, gehad het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article