In ’n hofsaak, tans op die hofrol in die hooggeregshof in Kimberley, is sosialemediaplatforms deur die verdagte gebruik om jong meisies se aandag te trek, net om hulle daarna in ’n web van talle booshede vas te vang.
Dié 25-jarige verdagte staan op 19 aanklagte tereg, wat moord, poging tot moord, verkragting, die toon van pornografie aan minderjariges, poging tot afdreiging en bedrog insluit.
In ’n onverwante hofsaak het ’n 38-jarige man verlede week in die Kimberley-streekshof op onder meer klagte van mensehandel, aanranding en verkragting verskyn.
Hy is in ’n hotel in die stad in hegtenis geneem, en twee slagoffers – onderskeidelik 17 en 29 jaar oud – is in sy hotelkamer gevind. ’n Derde slagoffer het ontsnap. Volgens die meisies is hulle onder valse voorwendsels van ’n beter lewe van Gauteng na Kimberley gelok. In Kimberley is hulle teen hul sin as sekswerkers aangewend.
Dit is bekend dat sosialemediaplatforms dikwels ’n wolf in skaapsklere verberg. Studies oor die wêreld heen het reeds aangedui dat veral tienermeisies, wat ure per dag op dié platforms deurbring, ’n swakker selfbeeld het en tot depressie geneig is.
Volgens die Harvard School of Public Health word die meisies met beelde van volmaaktheid bombardeer, wat hulle negatief oor hulself laat voel.
Loop hulle dan die wolf in skaapsklere raak, wat presies en slinks weet hoe om sy “fishing”-stokke in die wêreldwyeweb uit te gooi, en wat vleitaal besig om hulle spesiaal te laat voel, is die wolf se stryd so te sê gewen.
Die Verenigde Nasies se afdeling gemoeid met misdaad waarsku mense om lig te loop vir vreemde vriendskapsversoeke.
Moenie te veel inligting oor jouself deel nie (allermins naakfoto’s); dit wat jy deel, is vir altyd in die openbare domein.
Pasop vir advertensies wat te goed klink om waar te wees, en moenie huiwer om iemand te “unfriend”, blok of aan te meld as dié jou ongemaklik laat voel nie.




