Jabulani Zuma, seun van oudpresident Jacob Zuma.

Foto: Charné Kemp

Jabulani Zuma, seun van oudpresident Jacob Zuma, het vandeesweek in die hooggeregshof in Kimberley tydens die Piet Els-moordverhoor twee waarskuwings van die regter gekry om hom in te hou, anders kan hy dalk as ’n ongeloofwaardige getuie in die uitspraak bestempel word.

In sy getuienis waarin die aanklaer vele teenstrydighede uitgewys het, het Zuma sy vorige regsverteenwoordiger en die polisie as booswigte uitgekryt en gemeen hy sal ’n regverdiger verhoor in ’n ander provinsie as die Noord-Kaap kry. Dae tevore het hy nog sy vorige regsverteenwoordiger as eerlik en bekwaam beskou.

Zuma en ses ander word onder meer aangekla van die moord en aanval op Piet Els (86), bekende sakeman van Kimberley, en sy vriendin Rikkie Alsemgeest (68) in die oggendure van 24 Januarie 2018. Els het maande later aan sy beserings beswyk terwyl Alsemgeest, wat soos Els ook met ’n strykyster gemartel is, oorleef het. Kontant, juwele, munte en vuurwapens is gebuit. Els is 111 dae ná die aanval in die hospitaal aan sy beserings oorlede.

Jabulani Zuma, seun van oudpresident Jacob Zuma.

Die aangeklaagdes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37) van Lesotho, Lizbeth Ndlala (56) en haar man, Themba Lawrence Maja (68), Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga, Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga, en Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal.

Die staat voer aan Zuma het van sy huis in KwaZulu-Natal na Mbombela gery om vier van die beskuldigdes op te laai. Van hulle is tradisionele genesers wat teen betaling ’n ritueel moes uitvoer om ’n “spook in Kimberley te verwyder en ou munte op te grawe”.

Op 22 Januarie 2018 met hul aankoms in Kimberley is hulle na die huis van ene Amos Ralihlare. Op die aand van die voorval het drie onbekende Sotho-sprekende mans by hulle aangesluit. Zuma het na bewering vir Mahomane en die drie mans naby die plaas afgelaai. Sy selfoon bewegings en -aktiwiteite toon hy het glo al om die toneel gery en met die mans in die plaashuis kommunikeer. Teen sonsopkoms is die mans weer opgelaai. Terug by Amos se huis was daar ’n gespanne atmosfeer waar die buit verdeel en Zuma en sy geselskap glo weggejaag is. Een van die onbekende mans het ’n sak uit Els se huis na Mahomane gegooi.

Verskillende weergawes
Zuma het verskillende weergawes in sy verklaring, stellings aan medebeskuldigdes en in sy hoofgetuienis gegee. Adv. Hannes Cloete, aanklaer, het hom in kruisondervraging telkemale oor die teenstrydighede uitgevra. Zuma het hom vele kere vererg en gesê hy is nie Cloete se kneg nie en dat hy die grondwetlike reg het om te antwoord wat hy wil.

Cloete het gesê Zuma kan nie aan hom voorskryf hoe hy sy kruisondervraging moet lei nie en hoe hy sy werk as aanklaer moet doen nie.

Ná nog ‘n uitbarsting het regter Lawrence Lever aan Zuma verduidelik dat sy getuienis getoets moet word. Die hof moet getuies se geloofwaardigheid en optrede oordeel, wat moontlik nie in sy guns mag wees nie. Die waarheid spreek homself in die getuienis uit.

Die teenstrydighede waarop Cloete tot Zuma se frustrasie gehamer het, was dat Zuma nou aanvoer hy het slegs vir Mbokane gehelp deur hom na Kimberley aan te ry. In vorige getuienis het Mbokane gesê Zuma het sy hulp as geneser ingeroep om saam na Kimberley te gaan. Mbokane het Ndlala, Maja en Mahomane saamgenooi.

Zuma voer nou aan hy het niks van Ralihlare se bestaan geweet nie. Hy het die nag van die voorval geslaap en nooit die aanvallers gesien of besprekings oor die rooftog gehoor nie. In een weergawe het hy sy selfoon aan Ralihlare of een van die onbekende mans geleen. In ’n ander weergawe was sy foon weg tot nadat hy uit Kimberley weg is en by ’n gastehuis aangekom het. Hy kon nie antwoord dat dit onmoontlik is dat Ralihlare wat sy eie foon gehad het Zuma se foon sou leen nie, of dat die aanvallers in die plaashuis van hul eie fone gebel het.

Die aanklaer het dit aan Zuma gestel dat bewyse dui daarop dat sy foon heeltyd saam met hom vanaf sy huis na Kimberley en terug beweeg het.

Selfoonbedrywighede toon ook dat Zuma dae tevore, en daarna, telefonies in kontak met Ralihlare was oor die “job” wat gedoen moet word. In vorige stellings aan getuies het Zuma erken hy en Ralihlare was vooraf in kontak met mekaar. Die aanklaer het Zuma se een weergawe dat Mbokane op sy selfoon met Ralihlare gepraat het verwerp, want Mbokane se selfoonbewegings toon hy was op ’n heel ander plek op die gegewe tydstip.

Jabulani Zuma in die getuiebank.

Zuma as die motorbestuurder kort ná die voorval, ontken dat hy ooit gesien het hoe die sak uit Els se huis in en uit sy motor gelaai is, selfs by ’n beweerde polisieversperring langs die pad. Hy het R7 000 ontvang vir sy vervoeronkoste en weet niks van die munte en R10 000 wat die res van sy geselskap betaal is nie. Hy beweer die voorval is nooit op pad na Kimberley en ná die voorval in die motor bespreek nie.

Die aanklaer voer aan Zuma pas sy getuienis voortdurend aan en verwerp die selfoongetuienis omdat dit hom inkrimineer. Hy blameer ook sy vorige regsverteenwoordiger.

Zuma wat erken hy is nie bang om sy vir “grondwetlike regte” op te staan nie, kon nie antwoord hoekom hy nie sy regsverteenwoordiger korrigeer het as sy verkeerde stellings namens hom gemaak het nie.

“Ek moes dit aanvaar, wat anders kon ek doen?”

Zuma het Donderdag 26 Oktober homself ook distansieer van sy polisieverklaring wat hy nou beweer hy nooit geteken het, wat hy nie vroeër in die verhoor gedoen het nie.

Die verhoor duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article