“When I’m in turmoil, when I can’t think, when I’m exhausted and afraid and feeling very, very alone, I go for walks. It’s just one of those things I do. I walk and I walk and sooner or later something comes to me, something to make me feel less like jumping off a building.” – Jim Butcher, Storm Front

Soggens begin dit met die wekroep van die tuinvoëls wat hul kuikens leer vlieg en lang wurms vir hulle uit die grasperk trek. Die honde het lankal begin kriewel. Droomtyd is verby.

Bloed moet deur die are vloei en asem in die longe getrek word. Beskuit en rooibostee; vingers om die beker gekrul bedink jy die dag wat voorlê.

Om die voete maal die brakkies ongeduldig. Krrr, hol hulle met hondenaels oor die teëlvloer wanneer die hekke toegemaak en pette op koppe gesit word. Wriemelende lyfies word in harnasse ingespan.

Wandelstok in die hand, by die hek uit. Vryheid vir die viervoetiges. Vir tweebene ook.

Jy kan opkyk, rondkyk. Snuif en ruik. Luister en hoor. Voel en aanvoel. Vryheid om buite die huismure en erfgrense gister, vandag en more te bedink.

Beter oplossings, ander planne, nuwe idees val soos lenteblomme uit die lug.

Probleme word uitgestryk met geselsies, wegbreeknaweke in die vooruitsig gestel. Ander mense groet, glimlag, maak geselsies.

Die land se oplossings lê in die meelewende, eerlike mense op straat, hulle wat elke dag op pad werk toe glimlag. Ons moet mekaar aangryp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article