Cameron Hufke direk ná sy debuutwedstryd vir die Griekwas.

Foto: Facebook/G.W.R.U. Credit: SYSTEM

In Kimberley word gehoop die blink vertoning wat Cameron Hufke op Saterdag 4 November in sy buiging vir die Griekwas gelewer het, sal skolerugbyspelers in die Noord-Kaap inspireer om ook eendag die Poublou-trui oor die kop te trek.

Só sê Pieter Bergh, afrigter van Griekwas, nadat sy span die Pumas Saterdag met 21 – 19 in die Airlink­beker-reeks in Welkom geklop het.

Hufke (heelagter) het een van sy span se drie drieë gedruk en het die eerbewys vir speler van die wedstryd ontvang.

Cameron Hufke direk ná sy debuutwedstryd vir die Griekwas.

Hy was ’n leerling aan die Hoërskool Noord-Kaap en het onlangs ná draaie by die Bulle, die Boland en die nasionale sewes­akademie na die Diamantstad teruggekeer.

“Hopelik dien dit (Hufke se vertoning) as motivering vir skoolseuns dat dit moontlik is om hier op skool te wees en later vir die Griekwas te speel,” sê Bergh.

“Die Sol Plaatje-universiteit (SPU) in Kimberley droom daarvan om in die Varsitybeker-reeks te speel – eers in die Skild-reeks en dan hopelik later in die Varsitybeker.

“Op die duur is ons doel om die Griekwas se beste skolespelers in ons stelsel te hou.”

Sou dié universiteit, wat in 2014 geopen het, daarin slaag om tot die studentereeks toegelaat te word, kan dit verseker dat belowende skolespelers in die Noord-Kaap twee keer dink voordat hulle rugbyheil ná skool in ander provinsies gaan soek.

Vroeër het Deon Carney, afrigter van die Hoërskool Noord-Kaap se eerste rugbyspan, gesê dit is lekker om te sien dat iemand wat in Kimberley op skool was, by die Griekwas gekontrakteer word.

“Dit hou die skool se naam hoog, en vir die gemeenskap is dit goed om te sien dat iemand van hier vir die Griekwas kan uitdraf.”

Wat die Poubloues se vertoning teen die Pumas betref, is Bergh oor die algemeen tevrede.

“Ek dink ons het die wedstryd oorheers; ons het wel baie geleenthede geskep wat ons nie afgerond het nie en hanteerfoute begaan met skoppe wat nie uit was nie,” sê Bergh.

Puntemakers vir die Griekwas: 21 (14): Drieë: Bobby Alexander, Gustav du Rand, Cameron Hufke. Doelskoppe: George Whitehead (3).

Pumas 19 (7): Drieë: Phiko Sobahle (2), Jeandré Leonard. Doelskoppe: Brandon Thomson, Clinton Swart.

Die aksie in die Airlinkbeker-reeks verskuif die naweek na Potchef­stroom, waar die Griekwas en die Griffons slaags is.

Die Pumas pak die Luiperds in die ander stryd.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article