In ’n kantoor, waar ’n taxi in die straat se oorverdowende doef-doef-musiek die ruite laat ratel en waar die geselsery van verbygangers in die einste straat so luidrugtig is dat gesprekke binne die vertrek onhoorbaar is, kry jy ’n WhatsApp-boodskap van jou kind in ’n ver land: “Ek stuur later ’n stemboodskap; ek sit nou in die stilbus op pad huis toe.”

Die stilbus, vra jy later, hoe bedoel jy? In hierdie busse en in die treine is dit stil; mense praat nie hier nie, laat weet kind.

Met geraas van buite wat jou private ruimte binnedring, terwyl jy tydens ’n hittegolf letterlik en figuurlik sweet by die rekenaar, verlang jy nie net na jou kind in ’n ver land nie; jy verlang na daardie land se stilte ook.

’n Gesamentlike studie oor geraas is in 1985 in Japan, Duitsland en Engeland gedoen, waarin geraas as ongewenste geluide beskryf word. Wat ongewenste geluide is, word onder meer bepaal deur die individu se kultuur, verwysings­raamwerk en die spesifieke omstandighede.

Boonop, in ’n raamwerk waarbinne mense verdraagsaam teenoor geraas is, sal hulle nie daarop bedag wees om nie self geraas te veroorsaak nie.

Net so beïnvloed bogenoemde faktore die toon, spoed of vlak van emosie in gesprekke, aldus Think Cultural Health.

Omdat jy soos ’n slagoffer voel oor ander se geraasvlakke binne jou ruimte, lees jy weer die beskrywing van geluidshaat of misofonie op pharosonline.co.za.

Dit is neurologies van aard, en die deel van die brein wat klank verwerk, is meer sensitief vir stimuli. Sekere klanke kan ’n veg-of-vlug-reaksie by die lyer ontlok.

Omdat jy nie kan veg of vlug nie, druk jy weereens oorfone in jou ore en lawe jou brein met “geraas” wat jy as gewensd beskou: Vivaldi, Mozart . . .

Ene Stephen R. Covey het immers geskryf: “Our ultimate freedom is the right and power to decide how anybody or anything outside ourselves will affect us.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article