Die boetevonnis wat ’n senior provinsiale verkeersman van Upington in die streekhof in dié dorp opgelê is nadat hy hom aan korrupsie skuldig gemaak­ het, is in die hoog­geregshof in Kimberley as “belaglik­” bestempel en verhoog.

Regter Mpho Mamosebo het gesê sy is uit die veld geslaan dat Oscar Ncebe Bongela, wat in 2020 skuldig bevind en gevonnis is, steeds in die diens van die verkeersafdeling is.

Sy het op Vrydag 8 Desember die vonnis wat hy destyds opgelê is – ’n R10 000-boete of twee jaar tronkstraf – na ’n R60 000-boete of drie jaar tronkstraf aangepas. Bongela het tot die einde van volgende maand om dié boete ten volle te betaal, anders moet hy tronk toe.

Bongela en nog ’n verkeersman, Lebogang Jeremia Tosa, het Robert Doncaster op 14 Maart 2014 van die pad af­getrek omdat hy teen ’n hoë snelheid gery het. Doncaster se vrou was in kraam en hy was op pad na die hospitaal. Hulle het R1 000 geëis om Doncaster te laat gaan.

Hy het gery om die geld te gaan trek, maar die polisie vertel. Hy is met gemerkte geld van die polisie na die verkeersmanne en albei is in hegtenis geneem nadat Tosa die geld ontvang en R300 vir Bongela gegee het. Tosa is intussen dood.

Mamosebo het gesê korrupsie is ’n kanker waarteen streng opgetree moet word. Die twee verkeersmanne het hul salaris ontvang op dieselfde dag dat hulle die omkoopgeld geëis het. Hulle het die misdaad nie uit geldelike nood gepleeg nie, maar uit gierigheid.

Waarnemende regter A.D. Olivier het Mamosebo bygestaan. Adv. R.E. Jacobs het vir die direkteur van openbare vervolgings opgetree.

Mike van Rooyen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article