My oom Daan kon met ’n graaf werk soos niemand anders nie.
Dit is juis vanweë ’n graaf wat ek en hy mekaar goed leer ken het.
Met hul huis skaars 200 m van my geborge ouerhuis, was saamwerk logies en daagliks, byvoorbeeld soos om water uit die dam vir die vrugtebome te lei.
Dit was lekker tye.
Met hoogsomer en die vrug aan die bome het jy terwyl die water loop sommer so onder die boom staan en eet.
Vye, pruime, appelkose en perskes.
Totdat hy op ’n stadium sou sê ons moet nou maar stadig, hy is nie jammer vir die vrugte nie, maar vir ons mae.
Dit was die waterleitye.
Daar was ook tye van skoffel, tye van vore maak, tye van akkers aanlê.
So het ons maar alles met die graaf gedoen.
Maar dit was veral tye dat ons moes aartappels spit dat ek en hy ure om die graaf sou deel.
Vroegoggend voordat die dag ontwaak tot laatmiddag, dikwels. Winteroes en someroes.
Sonder meganisering. Met ’n graaf. Totdat die sakkies vir die dag vol is en die bakkie mark se kant toe vertrek.
Sulke graaf-tye, werk-tye, sou oom Daan graag sê: “Werk, Boetie, werk, laat ons werk solank ons kan.
“Daar kom ’n tyd dat ons nie kan nie.”
Hy is klaar gewerk, maar so wanneer die nuwe jaar begin, hoor ek oom Daan nog sê: “Werk, Boetie, werk.”
En dan werk ek, en ek sê dankie om ’n jaar werk-werk te kan ingaan.


