Daniel Alberts

Foto: Helena Barnard

Die saak teen Daniel Wilfred Alberts wat van die moord op twee lede van die blitspatrollie in Kimberley aangekla word, is tot 4 Maart vir sielkundige waarneming uitgestel.

Alberts, met ’n Pretoriase adres, het in Augustus in die landdroshof in Kimberley verskyn op twee aanklagte van moord, drie van roof met verswarende omstandighede, en die diefstal van ’n sedanvoertuig en ’n skootrekenaar.

Dit kom ná ’n jaagtog en skietery op 22 Augustus in Kimberley waarin sers. Kediemetse Masilo (45) en konst. Okaetse Mandindi (35) doodgeskiet is. Die polisie het dié dag inligting ontvang van ’n gehuurde sedanvoertuig wat glo gesteel is en vanaf Bloemfontein na Kimberley onderweg is.

Masilo en Mandindi het die voertuig glo opgemerk toe dit Kimberley op die N8 binnery. Die verdagte het van die N8 afgedraai, en volgens ’n sekuriteitswag by die Transnet-perseel in Austenstraat het ’n voertuig deur die hek gejaag sonder om te stop. Dit het deur ’n tweede hek gery en in ’n sloot beland.

Masilo en Mandindi, wat die voertuig gevolg het, is op dié perseel doodgeskiet. Alberts is later die dag by Riverton, ongeveer 30 km buite Kimberley, in hegtenis geneem.

Hy het met sy eerste hofverskyning aangedui dat hy nie om borgtog gaan aansoek doen nie en aangevoer dat hy ’n psigiatriese pasiënt is wat voorheen in 27 psigiatriese inrigtings opgeneem was. Landdros Leon Blaauw het hom vir sielkundige waarneming verwys.

Met sy verskyning op 29 Januarie is aangevoer dat Alberts op ’n waglys vir sielkundige waarneming is. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article