Die water in Kakamas en Keimoes wat nie geskik vir menslike gebruik is nie, het daartoe gelei dat AfriForum in die Noord-Kaap die Kai !Garib-plaaslike munisipaliteit by die Menseregtekommissie (MRK) verkla het.
Die klagte is op Vrydag 9 Februarie teen Obakeng Isaacs, die munisipale bestuurder, ingedien omdat hy versuim om sy pligte teenoor die gemeenskap na te kom met betrekking tot die voorsiening van water en sanitasiedienste. Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, sê dit is verlede jaar bevind dat hoë vlakke van E.coli en fekale koliforme in Keimoes en Kakamas se water teenwoordig is.
Watermonsters is by ses punte in dié dorpe geneem en laat toets. Kenhardt, nog ’n dorp wat deur die munisipaliteit bedien word, het nie water in sy krane om te toets nie.
“Dit is nog ’n bewys van die algemene verval van munisipaliteite in die Noord-Kaap”, sê Strauss.
Hy moedig mense aan om druk op die regering te plaas om sy verpligtinge na te kom.




