’n Voormalige musiekonderwyser en orrelis van die Vaalharts-besproeiingskema is verlede week dood in ’n huis in Bloemfontein gevind.
Retha van der Merwe (60) en Neilen van Breda (62) se lyke is op Dinsdagaand 13 Februarie in Van Breda se huis in die Universitas-woonbuurt, waar sy saam met hom gebly het, gevind.
Van der Merwe is in die kop en twee keer in die lyf geskiet en Van Breda is met ’n skietwond in die kop gevind. Van Breda, ’n menslikehulpbron-spesialis van Bloemfontein, het glo eers vir Van der Merwe, sy verloofde, doodgeskiet voordat hy homself om die lewe gebring het. Haar lyk is in die kombuis gevind en hy op ’n bed met ’n vuurwapen in die hand.
Hulle het verlede jaar op 12 Desember, op sy verjaardag, verloof geraak. Van Breda het vroeër van Johannesburg na Bloemfontein verhuis.
Van der Merwe het met haar dood etlike jare private kitaarlesse aan die Laerskool Universitas (Tjokkies) in Bloemfontein gegee.
Sy het vroeër in Hartswater en daarna in Jan Kempdorp gewoon.
Van der Merwe was ’n musiekonderwyser aan die Hoërskool Vaalharts in Jan Kempdorp. Sy was destyds ook ’n orrelis in verskeie kerke in die Vaalharts-besproeiingskema, en het ’n mannekoor van die NG kerk Noorderharts (Magogong) help afrig en begelei.
Sy was ook ’n gewilde troufotograaf in Vaalharts.
Sers. Peter Kareli, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n klag van moord en het ook ’n geregtelike doodsondersoek begin.





