“Hittegolwe wat rekords oortref, erge droogtes en die immerstygende pryse van belangrike boerdery-insette soos kunsmis en brandstof is maar enkele van die baie goeie redes waarom plaaslike boere nie Landbouweekblad se herlewingslandboukonferensie in Reitz moet misloop nie,” sê Chris Burgess, Landbouweekblad-redakteur.
“Hierdie konferensie het oor die jare die maatstaf gestel vir herlewingslandbou-opleiding in Suid-Afrika, en elke jaar word van die beste breine in ekologiese boerdery wat die wêreld kan bied, bymekaar gebring.
“Die doel is altyd om boere toe te rus om die gratis ekologiese dienste te benut wat die natuur bied: Van hoe om die voordelige vyande van insekte te vermeerder om boerderyplae te beheer tot die opbou van gesonde grond wat minder kunsmis nodig het en reën beter absorbeer.”
Dié geleentheid op 11 en 12 Maart in Reitz begin met Nick Vos, ’n oud-Suid-Afrikaner wat herlewingslandbou in Amerika bedryf, en ’n groot invloed het in die droë hooglande van Kansas, waar reënval skaars is.
Die hoofborge van die konferensie is VKB en Land Bank.
Danie Slabbert van Reitz deel die opwindende veranderinge wat hy opgemerk het in sy grondbiologie, sowel as by die natuurlike weiding op sy plase, waar hy met mielies, soja, beeste, skape en hoenders boer. Hy sal ook meer vertel van die abattoir wat hy op sy plaas gebou het om die geslote boerderystelsel wat hy ontwikkel het, te voltooi.
DF Fyfer van die droë Kalahari sal meer vertel oor sy uiters doeltreffende boerderystelsel, wat beeste, hoenders en bye insluit.
Bruce Shepherd van Bergville sal praat oor hoe hy die herlewingslandboulesse wat hy in KwaZulu-Natal geleer het, in die Vrystaat toepas, waar hy onlangs grond gekoop het.
Hendrik Odendaal, wat by Standerton boer, sal verduidelik hoekom hy vas glo dat die hoeveelheid lewe in sy grond uiteindelik sal bepaal hoe veerkragtig en winsgewend sy hele boerdery sal wees.
Die boere se bydraes sal aangevul word deur perspektiewe van belanghebbendes in die bedryf.
Douw Steyn van Barenbrug sal praat oor die vordering van en nuwe insigte in die aanplanting van dekgewasse reg oor Suid-Afrika, terwyl Jean Kuiper van Real IPM die jongste suksesse in biologiese produkte sal bespreek. Prof. Karin Jacobs van die Universiteit Stellenbosch (US) sal die jongste deurbrake in die begrip en klassifikasie van grondmikrobe-families bespreek, terwyl Themba Rikhotso, Land Bank se uitvoerende hoof, sal vertel hoe dié instelling homself herposisioneer as die voorste ontwikkelingsfinansierder van Suid-Afrikaanse boere. Konferensiegangers kan ook uitsien na ’n aandgeselligheid.
Die tweede dag van die konferensie sal plaasbesoeke aan Danie Slabbert se plaas bied, met die hoogtepunt ’n bespreking deur die bekende beesboer Pikkie Uys oor die teel van lae-onderhoud-, aanpasbare beeste in ’n Drakensberger-beeskudde. ’n Demonstrasie van ultrahoëdigtheid-beesbeweiding, sowel as ’n verskuifbare hoenderhok wat op die veld gebruik word, kan ook verwag word.
Daar sal boonop besprekings wees oor grondbiologie in ’n grondput in ’n 16 jaar oue geenbewerkingland, asook in ’n nul-bemeste mielieland. Die dag word afgesluit met ’n middagete van gebraaide hoender wat grootgemaak is, volgens herlewingsbeginsels.
- Kaartjies kos R1 850 (dit dek bywoning van die konferensie, etes en ’n intekening ter waarde van R1 800 op Landbou.com) en is beskikbaar op quicket.co.za.
- Rig navrae aan events@landbou.com.





