’n Bioniese arm sal die “wêreld” vir ’n jong boervrou beteken nadat sy ’n deel van haar regtervoorarm in ’n ongeluk met ’n kunsmis-menger verloor het.
Sané Wilken (18), wat verlede jaar aan die Hoër Landbouskool Jacobsdal (Landboudal) matrikuleer het en vanjaar haar kleintyd-droom op ’n plaas in die Boshof-distrik uitleef, se lewe het onherroeplik verander met dié ongeluk.
Wilken het al as graadeentjie geweet sy wil boer – ’n droom wat vanjaar ’n werklikheid geword het toe sy heeltyds op ’n plaas met vee en gewasse begin werk het. Daar is ook ’n verskeidenheid wildsbokke op die plaas.
Sy het net meer as ’n maand heeltyds gewerk toe haar regtervoorarm op 25 Januarie gedeeltelik deur ’n kunsmis-menger afgeruk is.
Sy was besig om ’n sak kunsmis by ’n gemotoriseerde watertenk in te gooi toe ’n bout die sak “gryp” en die sak om haar duim gedraai het. Sy kon haarself nie loswikkel nie.
“Jy voel daar breek die duim, daar breek die gewrig, daar breek die arm, dit speel oor en oor in ’n mens se kop af,” sê sy.
Die bout het haar arm vasgedruk en ’n “breukdeel van ’n sekonde” later het sy geen gevoel gehad nie. Dit is toe dat sy geweet het haar voorarm is af.
Toe een van die werkers die masjien afskakel, was dit reeds te laat. “Dit het alles so vinnig gebeur.”
Die ongeluk het ten aanskoue van haar kêrel, MC Boshoff (20), aan wie sy ná die ongeluk verloof geraak het, en werkers gebeur. Sy en Boshoff woon en werk op dié plaas vir sy familie. Boshoff het gebel om hulp te ontbied.
Sy sê sy was baie kalm toe sy sien haar voorarm is gedeeltelik weg. Sy glo sy het daarmee vrede gemaak toe sy haar arm voel breek.
“Ek het (ná die voorval) besef ek het met ureum gewerk – ek weet ureum kan moeilikheid op veral oop wonde veroorsaak en dit met my linkerhand van die wond probeer afvee.”
Die deel van die voorarm wat in die ongeluk afgeruk is, is uit die tenk gehaal en op ys na die hospitaal vervoer, maar kon nie gered word nie.
Sy is ’n week lank in die Mediclinic Bloemfontein behandel en tot 30 Maart afgeboek.
Wilken sterk nou op die plaas aan waar die voorval gebeur het en ervaar nie regtig pyn nie, maar by tye wel “spookpyn” in die deel wat sy verloor het.
Sy en haar gesin beskou die gebeure as ’n ongeluk en sê niemand is te blameer nie.
Wilken sê sy pak die lewe dag vir dag aan en is ook nie selfbewus oor haar stompie nie.
“Dis iets nuuts, maar dis orraait. In hierdie stadium gaan ek aan. Ek hou myself besig.
“Daar is baie dingetjies wat dit vir ’n mens baie moeilik maak, soos om aan te trek en te eet, dinge waarvoor jy hulp nodig het. Dit is nie lekker nie.”
Sy probeer positief bly sodat haar omstandighede haar nie onderkry nie. Sy sê sy leer gelukkig vinnig.
Haar ouers, Corlia en Charlie, woon sowat 12 km buite Jacobsdal en haar suster, Leoné (16), is ’n gr. 11-koshuisleerling aan Landboudal.
Wilken het in die noodeenheid aan haar ma gesê: “Dit is net ’n arm. Ek is nog lewend om met Ma te praat en hierdie gaan my nie onderkry nie.”
Corlia het op 7 Februarie vir Wilken ’n BackaBuddy-veldtog begin in die hoop om geld in te samel vir ’n bioniese arm wat sy met haar brein sal beweeg. Dié prostese sal haar lewensomstandighede verbeter en ook help om haar droom voort te sit.
Op 27 Februarie is net meer as R96 000 van die beoogde R400 000 in die veldtog ingesamel.
Corlia sê dit is nog onduidelik hoeveel die bioniese arm gaan kos, maar hulle moet iewers begin. Dit kan ook nog etlike maande neem voordat die res van haar arm vir ’n prostese gereed sal wees.
- Besoek “Sané Prosthetic arm” onder backabuddy.co.za om by die geldinsameling betrokke te raak.


