‘n Span van die Postmasburg-toutrekklub tydens die onlangse streekskampioenskap in Kimberley.

Foto: Helena Barnard

Ná die streekskampioenskaps­byeenkoms in toutrek wat by die Pirates-klub in Kimberley plaasgevind het, kan gees­driftiges uitsien na die Suid-Afrikaanse junior toutrek­kampioenskapsbyeenkoms eersdaags in die stad.

Op die onlangse streeksbyeen­koms op 24 Februarie – waarby spanne van die Noord-Kaap en Vrystaat betrokke was – het 248 trekkers deelgeneem, asook 27 afrigters, 66 spanne en 9 klubs.

Spanne in die kaalvoet- en junior “boots”-afdeling het in ver­skeie gewigsafdelings meegeding.

’n Span van die Gemsbokkies-toutrekklub in Postmasburg op die streeksbyeenkoms waartydens dié klub in al sy afdelings ’n eerste plek behaal het.

Derick Smit, ’n skeidsregter van die Tug of War International Federation (TWIF), vertel dat toutrek een van die sportsoorte is wat die meeste krag oor ’n kort tydperk vereis.

“Agt mense moet op dieselfde tyd dieselfde aksie op dieselfde manier en vir dieselfde uitkoms doen,” sê hy.

Behalwe dat ’n toutrekker se hande baie fiks moet wees, is die tegniek en sinchronisering wat saam as ’n span ingeoefen word, van uiterse belang.

Smit vertel dat belangstelling in toutrek as ’n sportsoort deur fases gaan wat aan die ekonomie gekoppel is. In die Noord-Kaap kan die afstande wat sommige klubs moet aflê en die gepaard­gaande koste om byvoorbeeld aan kompetisies deel te neem, ’n beperking wees. Tog gedy toutrekklubs, met nuwe klubs wat tot stand kom en groei.

‘n Span van die Postmasburg-toutrekklub tydens die onlangse streekskampioenskap in Kimberley.

Meisies én seuns kan van sesjarige ouderdom af in ’n span ingesluit word.

  • Die Suid-Afrikaanse junior kampioenskapsbyeenkoms vind op 15 en 16 Maart plaas.
  • Bel Werner Kleynhans by 082-921-2651 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article