Ná ’n onlangse optog oor die waterkrisis in Kimberley, waartydens ’n griefskrif aan die Sol Plaatje-munisipaliteit oorhandig is en waarvolgens binne 14 dae op vrae reageer moes word, het die DA verlede week klagte by die polisie teen die munisipaliteit gelê.
Ockie Fourie, DA-raadslid, sê die stad beleef ’n waterkrisis.
“Die manier waarop die munisipaliteit inwoners van hul reg tot water beroof, is absoluut krimineel. Dit kan nooit aanvaar of normaliseer word nie, maar moet ondersoek word.”
Die Sol
Plaatje-munisipaliteit sukkel ’n geruime tyd reeds om betroubare watertoevoer
te verskaf weens onklaar toerusting te wyte aan jarelange gebrek aan onderhoud.
Fourie sê hulle het nie binne 14 dae antwoorde op hul vrae ontvang nie.
“Ons het gedreig dat ons ’n strafregtelike klagte sal indien hulle nie antwoord nie. Ons voer aan dat wette soos die Nasionale Water- en Grondwet deur die munisipaliteit oortree word. Dit moet ondersoek word.”
Chris Whittaker, ook ’n DA-raadslid, sê sy klagtes hou verband met oortredings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.
“Daar is baie afwykings van die begroting wat deurgevoer word om vir noodherstelwerk te betaal. Daardie afwykings word nie in raadsvergaderings bespreek en goedgekeur nie. Die finansiële komitee het ook nie die inligting oor die transaksies nie en weet nie hoe die geld bestee word nie.
“Daar was 11 voorvalle waarin noodherstelwerk gedoen is, en sewe daarvan was onbeplan.
“Dit beteken dienste en produkte is aangekoop sonder vereiste tenderprosesse. Ons wil weet aan wie kontrakte teen watter prys toegeken is, en of die werk na behore gedoen is.”
Fourie sê hulle het in 2021
klagtes by die Menseregtekommissie gelê en in 2022 die openbare beskermer
genader.
“Die DA het herhaaldelik met die provinsiale regering gepraat en die
kwessies selfs na die president, die adjunkpresident, die nasionale minister
van Water en Sanitasie, en die nasionale minister van samewerkende regering
verwys.
“Ons voer aan dat
verskeie wette soos die Nasionale Waterwet en die Grondwet deur die
munisipaliteit oortree word. Dit moet ondersoek word. Dit is onaanvaarbaar om
waterafsluitings dag en nag te hê. Die armstes van die armstes moet water koop
met geld wat hulle nie het nie. Hulle ly die meeste.”
Onbetroubare
watervoorsiening maak sake onnodig moeilik vir besighede, skole, klinieke en
sorgfasiliteite vir bejaardes of persone met gestremdhede.
Albei is egter hoopvol en bly dat herstelwerk intussen gedoen word; en sê dit gaan ’n langtermynprojek wees waarmee sekere kontrakteurs reeds besig is.
Die munisipaliteit het onlangs ’n toelaag van die tesourie ontvang om die infrastruktuur teen R2,5 miljard oor sewe jaar op te knap. Die projek is in die noodfase, waarin lekplekke op grootmaatwatertoevoerpype herstel en die Riverton-watersuiweringsaanleg opgeknap word.




