Ek het by hierdie oom geleer wat die Afrikaanse uitdrukking “om lang trane te huil” beteken.
Mense wat dit nog nie gesien het nie en dit nie ken nie, sal dit nie verstaan nie.
Maar by hom het ek dit die eerste keer in my lewe leer ken.
Later sou ek dit meermale teëkom en ook besef dat wanneer mense lang trane huil, hul hartseer werklik intens is.
Hartseer waarvoor daar nie noodwendig antwoorde is nie, maar dit is ook die gevalle waarin dit wel help as ’n mens begrip vir die hartseer het.
Hierdie ou oom se lang trane was eerlik, seer en ’n getuienis van dit wat in sy hart geleef het.
Hy het sy broer verloor.
Vir altyd.
Aanvanklik nie aan die dood nie, maar weens dinge wat vroeër in hul lewe gebeur het.
En hy huil al sy hele lewe lank lang trane oor wat kon wees, oor verlore tyd, oor seer en oor onnodigheid.
Maar hy moes homself ook behou.
Hy moes aan homself erken dat hy sukkel met die onreg wat hom aangedoen is en dat alle verhoudinge van twee kante af kom.
Hy sug voor my, as hy net jammer was, kon soveel dinge anders wees.
Hyself het vergewe, maar hy het ook besef jammer, opregte berou en vergifnis moet van twee kante af kom.
Sy broer is oorlede voordat alles kon regkom.
En sy hart sal altyd seer wees.
Hy moes leer vrede maak met ’n broer wat nooit berou gehad het nie.
Vrede maak is nie altyd maklik nie.



