Water stroom uit ’n pypleiding buite Strydenburg wat die inwoners sonder water laat.

Foto: Skermgreep/Verskaf Credit: Charne Kemp

Strydenburg se radelose inwoners weet die afgelope agt maande nie of hulle soggens of saans kan tande borsel, stort, wasgoed was of kook nie. Niemand weet wanneer die watertoevoer aan sal wees, en die Tembelihle-munisipaliteit lig hulle ook nie in nie.

Volgens een inwoner trek argelose amptenare net hul skouers op.

Intussen is Paul van Niekerk, ’n VF Plus-raadslid, woedend nadat hy die afgelope Sondag 24 Maart ontdek het dat die munisipaliteit reeds “maande lank derduisende liters kosbare grondwater uit die munisipale boorgate in die veld pomp terwyl inwoners dors ly.”

“Niks is so kosbaar soos water in die dorre, droë Karoo nie. Skynbaar is die dik stroom water wat verlore gaan aanvaarbaar vir die munisipale bestuurder, want niks word opgelos nie.”

Die dorp het twee pompstasies buite die dorp wat op ’n punt bymekaar kom. Die probleem is by die een pompstasie op Blouplaas, sowat 16 km buite Strydenburg. Dit kry water van vier boorgate wat na ’n opgaartenk gepomp word. Volgens hom is daar verskille in die waterdrukking en loop die opgaartenk vinnig oor. Die water in die pypleiding kan nie na die dorp gepomp word nie.

“Dit is ’n ou probleem wat voorheen oorkom is deur die opgaartenk te omseil en die water direk van die pompstasie in die pypleiding te pomp. Die stelsel is terug verander, wat weer ’n watertekort gebring het.”

Hy sê die lekkende water het die grond al so sag, hulle kan nie daar ry nie.

Die stroom water vanuit die pypleiding het die omliggende grond in ’n pappery omskep.

“Ek het ook verder aan met die pypleiding probeer ry, maar die pad is met prosopis-bosse toegegroei. Ek wonder of enige onderhoud op die pypleiding gedoen kan word.”

’n Inwoner, Eralda Viljoen, sê hulle is radeloos want hulle was al dae lank aaneen sonder watertoevoer.

“Ons kan soggens nie gesig was of tande borsel nie. Ek kan nie kook of skoonmaak nie. Ons kan nie toilette spoel nie. As daar water is, is dit vol wurms en goggas. Mense het al maagprobleme ervaar.”

Sy en haar man is werkloos en kan nie water koop nie. Boonop het sy in 2022 ’n groot waterrekening van R13 000 ontvang omdat die wind in die pype die watermeter aandraai.

“Ons moet vir lug betaal.”

Sy sê hul groente het in die hitte gevrek omdat hulle nie water kan lei nie.

“Ons wil ons eie kos kweek omdat ons nie ’n Sassa-toelae kry nie.”

‘Probleem opgelos’

Kgomodikae Leserwane, munisipale bestuurder sê die probleem is Dinsdagmiddag 26 Maart opgelos.

“Ons het die pompe en pypleiding nagegaan en die fout ontdek. Dit was ’n blokkasie in die hoofpypleiding wat deur ’n foutiewe klep veroorsaak is. Dit is verwyder en die water word na die opgaartenk gepomp. Die dorp se watertoevoer is herstel.”

Hy sê Strydenburg se gedurige watertekorte is welbekend.

“Die ondersoek wat deur die munisipaliteit en departement van water en sanitasie (DWS) gedoen is, toon dat van die boorgate nie behoorlik funksioneer nie, want die opknappingsprokjek is nooit voltooi nie weens die oorgang tussen Sedibeng Water en BloemWater wat die aanleg oorsien het. Sommige boorgate was nie behoorlik toegerus nie, en alternatiewe energie-toerusting by die windpompe was nie behoorlik gekoppel nie. Die probleme word deur ons en DWS opgevolg.

“Ons kyk gereeld of die boorgate genoeg water gee om aan die vraag te voldoen. Ons sukkel byvoorbeeld om by te hou om 48 uur se water te berg.”

Die pompe wat die diensverskaffer aangebring het, het aanhou onklaar raak wat hulle gedurig moes herstel.

“Gedurende warm seisoene daal watervlakke. Ons het aangeneem dat ondergrondse waterbronne uitgeput was, maar Sondag is ontdek dat die water uit die opgaartenk stroom. Dit het later geblyk die oorsaak was weens die verstopping in die pypleiding.

“Ons kan nie water direk van die boorgate in die pypleidings pomp nie, want ons moet genoeg water vir 48 uur se deurlopende gebruik stoor. Om die opgaartenk te omseil, is slegs ’n tydelike oplossing.”

Munisipaliteit getaak

Luidens die jongste Bloudruppelverslag het die Thembelihle-munisipaliteit se Bloudruppel-status van 73,23% in 2014 afgeneem tot 59,52% in 2023. DWS sê in die verslag die munisipaliteit moet met die volgende ronde die regte dokumentasie oor daaglikse volumes, voltooide onderhoudswerk, bewyse van die tegniese span asook ingenieurs, tegnici en wetenskaplikes se kwalifikasies en hul onderhoudskedules en rekords verskaf.

Die munisipaliteit moet ook ’n waterveiligheidsplan en prosedure opstel en toepas asook gereelde proses-oudits vir alle waterverskaffingstelsels doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article