Kobus Pool tydens die terugplaas van die waterwiel op Maandag 1 April. Hy is bygestaan deur twee mans, wat as Nelis en Happy bekend is.

Foto: Verskaf

Tydens ’n vroegoggendpatrollie op Sondag 31 Maart deur lede van die Grootoog-buurtwag van AfriForum in Keimoes, is gevind dat die dorp se bekende waterwiel nie meer draai nie, maar teen die kanaal se blad afgesak het.

Meisie Pool, voorsitter van die AfriForum-tak in Keimoes, sê dat die lede om 03:15 tot die ontdekking gekom het. Met nadere ondersoek is gevind dat al agt boute van die naaf naaste aan die wingerde uitgedraai het. Die boute by die ander naaf was ook los, maar het nog nie uitgeval nie.

Pool sê die vermoede is dat die boute met die heroprigting van die wiel met die hand ingedraai is en nie behoorlik vasgedraai is nie.

Die waterwiel is in November terug op sy plek in die kanaal langs Keimoes se hoofstraat, ook die N14, geplaas nadat dit in die tweede week van Augustus afgehaal is omdat die rollaers en ’n deel van die as ingegee het. Dit het veroorsaak dat die waterwiel in die kanaal ingesak het en nie meer kon draai nie. Ontevredenheid het geheers oor die meer as drie maande waartydens Keimoes sonder dié toeristeaantreklikheid in sy hoofstraat moes bly.

Die waterwiel is in 1978 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Met behulp van lede van AfriForum en die gemeenskap is die waterwiel Maandag opgelig en die boute teruggeplaas. Kobus Pool, ook ’n lid, het gevind dat van die openinge uitgewerk is en groter boute sou benodig; ’n taak wat Dinsdag afgehandel sou word.

Meisie is dankbaar oor die gemeenskapsbetrokkenheid en sê te danke aan die inligtings­groep en voorvalregister wat die organi­sasie byhou, word “alles aange­meld” en geskied samewerking vinnig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article