Ons as mense word gemotiveer en gedryf deur verskillende dinge.

En dit is goed so. Ons is immers nie een net soos ’n ander nie.

Gelukkig nie. Wat vir een energie gee, tap ’n ander een se energie.

Tog is daar min dinge so moeilik soos om met ’n lui mens te werk.

Lui mense is moeilike mense. Altyd verskoning vir alles, en kry selde iets gedoen.

Eerder as om op luiheid te fokus, moet ons eerder fokus op wat dryf mense?

Wat maak dat hulle ’n ekstra tree gee?

Doelwitgedrewe mense beïndruk ons almal. Dit is mense wat weet waarheen hulle op pad is sonder om hul sukses ten koste van ander te behaal.

Daarom is dit belangrik dat elke mens hom- of haarself afvra wat motiveer hulle, wat dryf hulle, wat wil hulle in hierdie dag bereik.

In hierdie week, in hierdie maand, in die volgende vyf jaar.

Ja, die lewe is onvoorspelbaar en ons as mens kan maar net só ver beplan.

Daar is egter min dinge wat so lekker is soos wanneer iemand iets bereik waarvoor hy of sy so hard gewerk het.

Roepingsgedrewe mense met doelwitte is net anders. Hulle dink anders, doen anders, leef anders.

Daarom: Kry vir jou ’n doelwit! En kleiner doelwitte.

Werk vir iets en na iets toe.

Oppas vir dag in en dag uit net doelloos doen wat jou hand vind om te doen.

Voor jy jou kom kry is nog ’n dag verby, nog ’n week, nog ’n jaar, ’n hele leeftyd.

Droom drome, ja, maar bereik doelwitte roepingsgedrewe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article