Om emosioneel intelligent te wees, is om te wys en sê hoe jy voel, maar om dit met insig en respek teenoor ander en ook jouself te doen.

Foto: Unsplash/Lidya Nada

’n Kind se intelligensiekwosiënt (IK) was nog altyd as deurslaggewend vir prestasie beskou, maar emosionele intelligensie (EI) word al hoe meer as die belangrikste bepaler vir sukses beskou.

EI bevorder goeie en blywende verhoudings, leersukses en vooruitgang. ’n Mens word nie daarmee gebore nie, maar dit kan sonder twyfel aangeleer en ontwikkel word.

Dit is waar ouers, onderwysers en versorgers ’n groot rol speel om die kind te help om homself te leer ken, te aanvaar en ’n positiewe selfbeeld te hê. So ’n kind sal ook nie bang wees om dit waarna hy streef, te verwesenlik nie.

Om emosioneel intelligent te wees, is om te wys en sê hoe jy voel, maar om dit met insig en respek teenoor ander en ook jouself te doen.

Wat is die eienskappe van so ’n emosioneel intelligente kind? Hoe moet ’n mens te werk gaan om so ’n kind groot te maak?

Afrikaans.com vertel meer:

Wat is emosionele intelligensie?

Dit is die vermoë om jou eie emosies te erken en te reguleer, maar ook om die emosies van ander rondom jou te verstaan sodat jy met empatie kan reageer, jouself kan reguleer om by omstandighede aan te pas, stres te hanteer en veral om jouself te motiveer. EI dra by tot suksesvolle sosiale interaksie en konflikhantering.

’n Emosioneel intelligente persoon ken sy sterk en swak punte, maar het die insig en selfvertroue om dit te hanteer.

Hoe lyk ’n emosioneel stabiele kind?

’n Kind wie se emosionele intelligensie goed ontwikkel is, ken homself, kan sy gevoelens verwoord, het ’n goeie selfbeeld en weet hoe om met sy maats om te gaan.

Hy kan sy beurt afwag, hy deel maklik sy speelgoed en hou daarvan om sy maats te help. Hy het gewoonlik ook die vermoë om konflik, hartseer, woede en teleurstelling te hanteer, juis omdat hy sy eie emosies verstaan en daarom oor die emosionele vaardighede beskik om homself te reguleer.

Oor die algemeen is gedragsprobleme ook minder. So ’n kind het respek vir ander se gevoelens en waardes. Omdat die kind ook seker is van homself, sal hy nie maklik negatief beïnvloed word nie – en sal beslis nie in die vuur spring omdat sy maatjie dit doen nie. Kortom, ’n kind wat sy emosies onder beheer het, dink voordat hy doen.

’n Mens mag emosie wys, al is dit negatiewe emosies. Hoe jy daarop reageer, is wat belangrik is, en die gedrag wat jy openbaar moet steeds aanvaarbaar wees.

Rol van die ouer

Dis is onmoontlik om jou kind en ander se emosies te erken alvorens jy nie self eers leer om jou emosies te verwoord nie.

Reaksie, gedrag steeds aanvaarbaar
Jy mag maar emosie wys, al is dit negatiewe emosies. Hoe jy daarop reageer, is wat belangrik is, en die gedrag wat jy openbaar moet steeds aanvaarbaar wees.

Dus: jy mag maar vir jou kind sê jy is kwaad en teleurgesteld, maar doen dit op ’n kalm wyse. Gil en skree is onaanvaarbaar en gaan beslis nie die beste uitkoms bewerkstellig nie;

deur met insig na ander te kyk, kan jy jou kind leer om die verskillende emosies raak te sien;

maak seker jy luister mooi wanneer jou kind vir jou sê hoe hy voel sodat jy hom op ’n eenvoudige manier kan leer hoe om te reageer;

leer jou kind om eers te dink hoe om te reageer;

moedig hom aan om oplossings te kry en uiting te gee aan sy gevoelens;

leer jou kind dit is normaal om negatiewe emosies te ervaar en dat hy nie skuldig daaroor hoef te voel nie;

seuns moet aangemoedig word om te sê en te wys hoe hulle voel – hulle mag maar huil; en

jy kan nie jou emosies kies nie, maar jy het wel ‘n keuse hoe jy daardie emosies gaan gebruik en daarop reageer.

Wys en sê wat en hoe jy voel, maar doen dit met insig en respek teenoor ander en ook jouself.

  • Bron: Annelie van Jaarsveldt, Afrikaans.com (kies “Algemeen” onder “Leerhulp” vir die langer weergawe van dié en ander insiggewende artikels).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article