Om gemeenskapsamehorigheid te verbeter, het windkragaanlegte in Loeriesfontein met plaaslike sportklubs, insluitend die van netbal en sokker, saamgespan.
Dié samewerking sluit die borg van sporttoerusting deur ’n vennootskap met ’n plaaslike besigheid in wat tot die ekonomiese groei van die gebied bydra.
“Deur saam te werk met sportklubs beoog ons om geleenthede aan jong sportdeelnemers te bied om uit te blink en positief tot die gemeenskap by te dra,” sê Vanessa Fredericks, ekonomiese ontwikkelingsbestuurder vir die Loeriesfontein en Khobab-windkragaanlegte.
Die samewerking het meegebring dat die windkragaanlegte die borgskap na die Ramblers-netbalklub en vyf plaaslike sokkerklubs uitgebrei het, insluitend Kakken Bulls, Dream Team, Extreme Stars, AJAX FC Loeriesfontein en Rasta Malan.
Die geborgde items het netbalklere en -tekkies vir die Ramblers-netbalklub ingesluit, asook sokkertoerusting vir elke speler en doelwagter vir al vyf sokkerklubs. Elke netbalspeler het ook ’n sweetpak ontvang. Al die klere is met die klubname afgerond.
“Ons betuig ons opregte dank aan Loeriesfontein en Khobab-windkragaanlegte vir hul ruim borgskap van ons sporttoerusting en drag. Hierdie bydrae is van onskatbare waarde tydens oefensessies en wedstryde. Dit bevoordeel nie net ons span nie, maar help ook met die uitbreiding en bevordering van sokker binne Loeriesfontein,” sê Heinrich Irion, kaptein van die Dream Team.
Fredericks sê deur inisiatiewe soos hierdie word tot die breër gemeenskapsontwikkelingsdoelwitte van Loeriesfontein bygedra, wat ‘n positiewe impak op die samelewing skep, terwyl die liefde vir sport by die jeug versterk word.





