Die Hoërskool Diamantveld se paviljoen word vir baie sportbyeenkomste gebruik.

Foto: Louis Botha Fotografie

Die Hoërskool Diamantveld in Kimberley het groot planne om sy paviljoen te vergroot om meer toeskouers op sy sportgeleenthede onder dak te hê.

Dié skool was vanjaar weer die gasheer vir die gewilde Absa Wildeklawer Skolesporttoernooi, waarin twee oorsese skolerugby­spanne ook gespeel het. Altesaam 4 500 atlete van 111 skole het in 192 spanne deelgeneem.

Wian Steynberg, voorsitter van die beheerliggaam, sê hulle wil sowat 400 sitplekke by die paviljoen voeg, wat 800 sitplekke het. Die paviljoen is al 40 jaar oud.

“Ons het met die afgelope FNB Classic Clashes teen die Hoërskool Noord-Kaap gesien daar is ’n behoefte aan meer sitplekke. Dit was ook so met die Absa Wildeklawer-toernooi. Die skool is vol, met 900 leerlinge. Op sportdae kom hul ouers en ander ondersteuners ook by, wat die ruimte beperk maak.”

Hy sê die nuwe aanbouing aan albei kante van die bestaande paviljoen sal betonsitplekke wees, terwyl die huidige metaalstruktuur opgeknap sal word.

“Een van die aangeboude klubhuise sal moet plek maak vir die nuwe struktuur. Ons sou groter wou bou om meer sitplekke te kan vestig, maar word beperk deur die verkeersirkel buite die skoolterrein wat ook ’n verklaarde erfenisterrrein is.”

Hy sê hulle wag nog vir uiteindelike munisipale goedkeuring en berekenings om die koste te kan bepaal.

“Die konstruksie sal so vyf na ses maande duur. Alles moet ’n maand voor volgende jaar se Absa Wildeklawer-toernooi voltooi wees.”

Die skool het oor die jare heen geld vir die nuwe paviljoen ingesamel, en borge het aangedui dat hulle behulpsaam sal wees sodra die finale berekeninge van die bouwerk gedoen is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article