’n Dominee van Kimberley wat moes hoor sy het kanker toe sy twee maande swanger was, het aan ’n gesonde dogtertjie die lewe geskenk.
Ds. Arisa Zandberg van die NG kerk Bakenskop, en haar man, Dirk, sê hulle het lank gebid vir ’n sussie of boetie vir hul oudste kind, Anke (5).
“Ek het in Augustus verlede jaar met vrugbaarheidsbehandeling begin. Terwyl ons gewag het om te hoor of dit suksesvol was, het ek eendag ’n knop in my nek gevoel toe my handsak se band daarteen druk.”
Terwyl die egpaar vir Anke geneem het om haar mangels te laat verwyder, het Arisa die dokter gevra of dit iets is waaroor sy bekommerd moet wees. Hy het haar aangeraai om dit eerder nie te ignoreer nie.
Hulle het in Oktober die nuus ontvang dat Arisa swanger is.
“Ek kon toe nie vir die skanderings gaan nie. Die dokters kon eers net met sonars kyk en daarop het iets verdag gelyk.”
Arisa het later vir ’n biopsie gegaan waarvan die uitslag onbeslissend was. Dit het ongeveer ’n maand en ’n half geneem om uit te vind of sy wel kanker het.
Ná ’n groter biopsie is daar vasgestel dat Arisa Hodgkin se limfoom het. Sy was ongeveer agt weke swanger toe sy die diagnose ontvang het.
Die egpaar se grootste bekommernis was dat hulle die baba sou verloor.
“Die chemo-behandeling vir hierdie soort kanker is taamlik aggressief aangesien die kanker baie aggressief is,” sê Arisa .
Haar onkoloog, dr. Theo Smalberger, het haar verseker dat hy saam met hulle sal veg vir die nuwe pienkvoet.
“Hy het die chemoterapie aangepas dat ons haar kon behou.”
Hy en Arisa se ginekoloog het saam ’n plan beraam. Die behandeling het begin toe Arisa 17 weke swanger was, wat die veiligste tyd vir die baba was.
Dirk sê sy vrou was in ’n stadium baie swak. Die behandeling is drie weke voor die baba se geboorte onderbreek sodat sy ’n keisersnee kon ontvang. Hul baba is twee weke gelede op 38 weke gebore, en die egpaar het haar Jana genoem.
Jana is sonder enige tekens van newe-effekte van die chemoterapie gebore.
Arisa sê sy sal dopgehou word om te sien hoe sy ontwikkel.
“My grootste vrees was die effek wat die behandeling op Jana sou hê en die langtermyngevolge, maar ons is so verlig dat sy ’n gesonde dogtertjie is.”
Sy sê haar onkoloog het geweldig baie navorsing gedoen voordat die besluit geneem is oor hoe die chemoterapie toegedien sou word. Die veiligste roete is gekies om die behandeling deur haar swangerskap te volg.
Arisa sê Jana se naam beteken in Hebreeus God is genadig.
Die chemoterapie sal hervat word en Arisa moet na verwagting nog twee behandelings ontvang.
Dirk sê sy vrou sterk baie goed aan.
“Sy was in ’n stadium so swak dat sy skaars ’n kasdeur kon oopmaak. Onlangs het sy my verbaas toe sy aandete kon kook. Die genade wat ons ontvang, is ongelooflik.”
Hy sê hy kan nie aan ’n mooier Moedersdag-storie dink as hul eie nie. – Anena Burger





