Die Noord-Kaapse polisiekaptein in die eenheid gemoeid met veediefstal en beskermde en bedreigde spesies in Springbok wat op Woensdagmiddag 8 Mei deur die polisie se nasionale teenkorrupsie-eenheid in hegtenis geneem is, is op borgtog van R50 000 vrygelaat.

Kapt. Karel du Toit (55) het vlugtig in die landdroshof in Springbok verskyn, op vier aanklagte van bedrog, alternatiewelik diefstal, die oortreding van die Wet op Toerisme, korrupsie en ’n aanklag van dwarsboming van die gereg, sê Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Du Toit is bekend om die baanbrekerswerk wat hy in die stryd teen die onwettige stropery van bedreigde plantspesies in die Noord-Kaap gedoen het.

Hy is vir hierdie werk bekroon en word wyd daarvoor geag.

Die ondersoek na Du Toit was glo uiters sensitief en is deur die nasionale teenkorrupsie-eenheid van Pretoria uitgevoer, hoewel sekere betrokkenes glo ook van die Noord-Kaapse eenheid is.

Du Toit is op streng voorwaardes op borgtog van R50 000 vrygelaat, sê Senokoa­tsane.

Hy moet sy paspoort inlewer en mag vir die duur van die verhoor nie Suid-Afrika verlaat nie. Hy moet hom ook elke Vrydag by sy naaste polisiekantoor aanmeld.

Die saak is tot 1 Augustus vir verdere ondersoek uitgestel.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê interne prosesse is reeds begin om te bepaal of Du Toit geskors sal word.

“Dit is gewoonlik wat gebeur wanneer ’n lid aangekla word.”

Sy sê genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het Woensdag sterk reageer oor polisielede wat by korrupsie betrokke is.

“Geen korrupsie sal meer in die Suid-Afrikaanse polisie geduld word nie,” het Masemola gesê.

Hy sê 2 118 polisielede is in die afgelope vyf jaar weens korrupsie en misdaadverwante aktiwiteite afgedank.

Anena Burger en Elise Tempelhoff

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article